On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Nasionale landelike veiligheidsplan steeds nie geïmplementeer nie

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:13 Tue, 28 Jan 2020

Landbounuus-podcast: Nasionale landelike veiligheidsplan steeds nie geïmplementeer nie | News Article

Die implementering van die nasionale landelike beveiligingstrategie wat verlede jaar bekendgestel is, vind teen 'n slakkepas plaas.


Tommie Esterhuyse, voorsitter van landelikeveiligheid by Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid, sê die polisie moet vinniger op grondvlak dié strategie in plek kry sodat die landboubedryf sy ondersteunende rol kan speel. Hy sê daar is talle struikelblokke in dié verband. 'n Gewysigde landelike veiligheidsplan is in Oktober verlede jaar deur Bheki Cele, die minister van polisie, bekend gestel. Dit sluit onder meer in die daarstelling van snelreaksiespanne wat kan reageer op misdaad in landelike gebiede. 

Die tydelike nasionale moratorium op die samekoms van spleethoewige diere vanaf twee of meer bronne nadat bek-en-klouseer in Limpopo uitgebreek het, raak die informele bedryf swaar. Daar word steeds volgehoue druk op die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, geplaas om dié moratorium, wat lewendehawe veilings en die skou van diere verbied, op te hef en slegs in die gebiede wat geraak word, te laat geld. Die nasionale organisasie vir opkomende rooivleisprodusente, Nerpo, se Aggrey Mahanjana, sê dié organisasie en ander betrokkenes spits hom deurlopend hierop toe, want klein- en opkomende boere word negatief beïnvloed omdat hulle hoofsaaklik afhanklik is van openbare veeveilings om hul diere te verkoop. Hy meen egter dit is opmerklik dat veediefstal afgeneem het in talle gebiede nadat dié konvensionele veilings tydelik gestaak is. Volgens hom is dit duidelik dat dié veilings ook 'n kanaal vir booswigte is.

EN

Lewendehawe-veilingshuise oor die land heen wend hulle nou tot alternatiewe wyses om veilings aan te bied in die lig van die tydelike moratorium op die samekoms van spleethoewige diere van twee en meer bronne. Dié tydelike verbod, wat veilings en die skou van diere verbied, is deur die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, aangekondig om die verspreiding van bek-en-klouseer in Limpopo te verhoed. Die hoof van GWK-veilings, Willie Meyer, sê die landboubesigheid was ook genoop om weens dié verbod nuwe tegnologie te gebruik om veilings aan te bied.  Katalogus- en videoveilings word veral in die kommersiële bedryf oorweeg. Hy sê die Dorland Trust-speenkalf-videoveiling vind Woensdag in Bloemfontein plaas. Meyer sê 5 370 speenkalwers van die Dorland Trust word Woensdag om 12:00 by die veiling by die Botaniese Tuine in Bloemfontein in altesaam 37 lotte aangebied. 'n Groot versameling van diere word in 'n lot aangebied.

OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.