On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: VS regering gaan plase aan gemeenskappe oordra

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:47 Wed, 26 Feb 2020

Landbounuus-podcast: VS regering gaan plase aan gemeenskappe oordra | News Article

Die Vrystaatse regering gaan fokus op plase wat aan die staat behoort om aan gemeenskappe oor te dra.


Die premier van die Vrystaat, Sisi Ntombela, het in haar provinsiale rede tydens die amptelike opening van die Vrystaatse Wetgewer, gesê 'n komitee wat daarmee handel sal 'n verslag saamstel oor dié aantal plase wat beskikbaar is. Volgens haar ondersteun die provinsiale regering onteiening van eiendom sonder vergoeding en het hulle reeds met munisipaliteite gesprekke gevoer om beskikbare grond aan gemeenskappe oor te dra. Dit behels dat staatsgrond aan munisipaliteite verskaf gaan word vir behuisingsdoeleindes. Ntombela het gesê van die meer as 4 900 sogenaamde beskikbare grondpakkette is meer as 2 500 pakkette geoormerk om aan regmatige begunstigdes oorgedra te word.

Nog geen regeringslandbouprojekte in die Vrystaat was in die langer termyn volhoubaar nie. Dit is volgens Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse Wetgewer, in reaksie op  premier Sisi Ntombela se provinsiale rede Dinsdag in Bloemfontein. Ntombela het verwys na goeie vordering wat gemaak word met 'n bokprojek vir jongmense en vroue. Ntombela het ook gesê 'n visprojek in Oranjeville, wat verlede jaar in Desember bekendgestel is, het sewe werksgeleenthede geskep. Jankielsohn meen daar is nie suksesvolle projekte nie. Jankielsohn het Ntombela se pleidooi aan gemeenskappe verwelkom dat grondgrype nie geduld gaan word nie, asook dat daar streng teen oortreders opgetree gaan word.

Intussen het die Vryheidsfront Plus se Devar Smit, wat 'n lid van die Vrystaatse Wetgewer is, hom sterk  teen die Agriparke-inisiatief uitgespreek. Dit kom nadat die premier van die Vrystaat, Sisi Ntombela, in haar provinsiale rede vandeesweek verwys het na dié Agriparke-program wat plaaslik op dreef is. Volgens Ntombela word 'n pakhuis en nog infrastruktuur in Springfontein opgerig en die Thaba Nchu abbattoir word opgegradeer. Smit meen geld wat aan dié program beskikbaar gestel is, kon eerder aangewend word om hulp te verleen aan boere wat weens die uitwerking van die droogte swaartrek.

En

Die African Farmers Association of South Africa, Afasa, het 'n nuwe tussentydse provinsiale voorsitter aangewys. Piet Mothepu, wat tans die voorsitter van Afasa se Fezile Dabi-distrik is,  neem die leisels oor by Nakana Mosako wat uit die amp getree het.  Masoka, wat die afgelope vier jaar dié posisie beklee het, is verlede maand verkies tot Afasa se nasionale sekretaris-generaal. Afasa se grondwet bepaal 'n lid wat deel is van die nasionale struktuur van dié vereniging kan nie op 'n provinsiale uitvoerende raad dien nie. Mothepu, 'n veeboer en een van die langsdienende lede van Afasa, glo landbouverenigings soos dié speel 'n belangrike rol om 'n rewolusie vir kleinboere te bewerkstelling. Dit kan gedoen word deur toegang tot insette, krediet, uitsetmarkte, en tegniese opleiding.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.