On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Kommer oor gesondheidskrisis in Matjhabeng

───   CATHY DLODLO 09:37 Thu, 21 Oct 2021

Kommer oor gesondheidskrisis in Matjhabeng | News Article
Water is gisteraand by Mediclinic Welkom afgelewer. FOTO: Facebook - Goldfields Crime & Traffic Updates

Dorpe wat onder die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit val, is in die middel van ‘n gesondheidskrisis weens die watertekort.

Hospitale en klinieke in Welkom, Virginia, Odendaalsrus en Allanridge moes as ‘n noodmaatreël hulle dienste afskaal. OFM-nuus het vroeër berig dat dié reeds brandarm munisipaliteit se geldkrisis nou daartoe gelei het dat inwoners met droë krane sit.

Die Sedibeng-waterraad het watertoevoer na dié dorpe afgesny as gevolg van die munisipaliteit se uitstaande skuld. Die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA) in die Vrystaat se Lynsie Pelser, sê gesondheidspersoneel is bekommerd oor hoe dié krisis die geveg teen die Covid19-pandemie gaan raak.

LEES MEER: VF Plus vra vir ingryping in waterkrisis

Sy sê hospitale en klinieke het nou die publiek om hulp gevra. "Gesondheidspersoneel by klinieke het inwoners met boorgate gevra om water by die klinieke in dié dorpe af te lewer. Die situasie is regtig erg, want een van die grootste probleme is infeksie-beheer as gevolg van die waterkrisis,” verduidelik sy.

Pelser sê in dorpe waar daar een of twee klinieke is, kan die tydelike maatreël werk as inwoners met boorgate water aflewer. Sy sê dit gaan egter nie die hospitale van genoegsame water kan voorsien nie.

Intussen het die burgerregte organisasie Afriforum aangedui dat altesaam drie munisipaliteite deur die krisis geraak word en dat hulle die hof op ‘n dringende basis gaan nader. Die organsisasie se regspan gaan na verwagting Donderdag die Hooggeregshof in Bloemfontein nader sodat watertoevoer na die dorpe in die Matjhabeng-, Nala-, en Maquassi Hills Plaaslike Munisipaliteite herstel kan word.

AfriForum het reeds Maandag 19 Oktober 2021 ‘n skrywe aan die Sedibeng-waterraad gerig en versoek dat die watertoevoer vanaf die Balkfontein-aanleg herstel word. Die organisasie sê die Sedibeng-waterraad het nie op die skrywe gereageer nie en dit het die hofaansoek genoodsaak.  

Stemboodskappe wat op sosiale media die rondte doen, het intussen aangedui dat Sedibeng-werkers na bewering as gevolg van ‘n loongeskil die watertoevoer by dié aanleg afgesny het. Afriforum het in ‘n verklaring na dié gerugte verwys en gesê dat die watertekort derduisende inwoners in dié munisipaliteite raak.

Afriforum sê opgehoopte skuld van die waterraad en wanbetaling aan Eskom plus die vermoedelike staking van die waterraad se werkers is verantwoordelik vir die droë krane van inwoners in dié munisipaliteit.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.