Press Office
SOWAT 3 000 GESINNE VIND BAAT BY PAMODZI NOODFONDS─── 11:43 Mon, 29 Jun 2009

Laas week alleen is meer as R250 000 vir kospakkies in Welkom en Orkney beskikbaar gestel. Op Dinsdag, 16 Junie is nagenoeg 1 950 kospakkies aan geregistreerde werknemers en hul gesinne van Pamodzi Welkom uitgedeel. Op
Vrydag, 19 Junie is 'n verdere 930 kospakkies in Klerksdorp aan werknemers van Pamodzi Orkney uitgedeel.
Voorsitter van die Orkney Pamodzi Noodfonds, ds. Johan Gerber, sê van die geld wat ingesamel is met die onlangse OFM / Solidariteit Helpende Hand telethon is gebruik om 'n gedeelte van die voorraad aan te koop. Die res van die inhoud is moontlik gemaak deur skenkings van onder meer Sasko, boere wat wors en groente gegee het asook ander plaaslike fondsinsamelingsprojekte. Die kospakkies sal, afhangende van die beskikbaarheid van geld en die oordeel van die onderskeie komitees wat die prosesse behartig, elke twee weke of elke maand uitgedeel word.
OFM in samewerking met Solidariteit Helpende Hand het gedurende die laaste week in Mei n baie suksesvolle Radiothon in Welkom gehou. Die doel van die radiothon was om dringend geld in te samel vir die mense van die Pamodzi myngroep in Welkom en Orkney. Meer as R1 miljoen in skenkings is beloof gedurende die 12-uur uitsending. Volgens dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, is egter nog net sowat R850 000 hiervan
ingesamel terwyl die verdere nagenoeg R200 000 in beloofde skenkings nog kortkom. Helpende Hand administreer die geld.
Alle werknemers van Pamodzi, ongeag van vakbond-affiliasie, word deur die voedingsprojek gehelp. Die projek vereis egter n registrasieproses, wat beteken dat werknemers by hul naaste vakbond- of mynkantoor n vorm moet
afhaal, dit indien by die plaaslike Noodfonds-komitee en bewys moet lewer van diens in Pamodzi. Persone wat intussen reeds ander werk gekry het, verhuis het of wie se versieningsfondse uitbetaal het, kan nie vir die
voedingsprojek registreer nie. Die lyste word ook maandeliks in samewerking met die Pamodzi-mynbestuur geoudit.
Met bykans ses maande wat verloop het sedert die oorspronklike salarisprobleme by die goudmaatskappy Pamodzi Gold, is die werknemers van dié bankrot maatskappy en hul gesinne steeds in sak en as. "Maatskaplike probleme weens finansiële druk in dié myngemeenskappe raak al hoe meer algemeen. Die maatskaplike behoefte by die gemeenskappe is ernstig en uiters dringend. Hoewel die skenkings wat tot dusver ontvang is die onmiddellike behoefte kan verlig, is bykomende hulp noodsaaklik. Terwyl verligting nog nie in sig is vir die werknemers van Pamodzi nie, moet alles in die stryd gewerp word om maatskaplike steun aan die gemeenskap te lewer", verduidelik Langner.
Meer as 1 800 werknemers is in diens van Pamodzi se Orkney-myn net buite Klerksdorp terwyl n verdere 3 800 en 3 900 by onderskeidelik die Pamodzi Welkom- en Pamodzi Oos-Rand-myne werk.