On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Human Interest

Houtbaai-inwoner red man van verdrinking

───   14:35 Mon, 04 May 2015

Houtbaai-inwoner red man van verdrinking | News Article

Houtbaai - 'n 36-jarige man is Saterdag in Houtbaai, Kaapstad van 'n gewisse verdrinking gered danksy 'n inwoner, Jannie Krynauw, se vinnige optrede.

Krynauw het met sy honde gaan stap toe hy iets in die water opgemerk het. Hy het ondersoek ingestel en besef dit is die liggaam van 'n jong man. Hy is dadelik in die see in en het die man na die strand toe gesleep. Hy het begin om die man te probeer bybring, en het om hulp geskree.

Intussen het Anthony Allen, wat saam met sy hond op die strand gaan fietsry het, op die toneel afgekom waar 'n paar mense al om Krynauw saamgedrom het. “Jannie ken my van die Nasionale Seereddingsinstituut,” het Allen aan Maroela Media gesê. Allen is 'n vrywilliger by NSRI Bakoven.

“Hy het versoek dat ek hom help en ek het die pasiënt se tekens van lewe dopgehou terwyl ek verdere besonderhede aan plaaslike paramedici deurgegee het deur die Houtbaai Watchcon-beheersentrum,” het Allen verduidelik. “Mark Muller, vrywilliger-paramedikus van die brand- en reddingsdiens, het opgedaag en ek en Jannie het die pasiënt aan hom oorgegee.” Die man was in hierdie stadium reeds stabiel en het op sy eie asemgehaal.

“Dit was 'n wonderwerk dat ons die man kon bybring,” het Krynauw gesê. “Die lewe maak soms vreemde en wonderlike draaie. Ek is dankbaar dat ek op die regte tyd op die regte plek kon wees. Vandag was 'n goeie dag.”

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig. “Die man is na 'n hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling en berading,” het Van Wyk gesê.

Maroela Media





@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.