On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agriculture

SA moet voorberei vir runderpes by kleinvee

───   15:43 Fri, 15 Aug 2014

SA moet voorberei vir runderpes by kleinvee | News Article
Johannesburg - Runderpes by kleinvee, wat die land se kuddegesondheid bedreig, kom reeds net bokant Angola voor. Suid-Afrika moet hom voorberei teen die aanslag van Peste des petits ruminants (PPR), oftewel die runderpes van kleinvee, wat die land se kuddegesondheid bedreig.

Runderpes by kleinvee is ’n bedreiging wat oor die wêreld heen versprei en in Suider-Afrika reeds net bokant Angola voorkom.

Dr. Danie Odendaal van Veeartsnetwerk sê die kans dat dit suidwaarts kan versprei, is baie groot, aangesien wild wel uit dié dele verskuif word.

Odendaal het op die nasionale kongres van die Rooivleisprodusente-organisasie in Bloemfontein gesê ’n doeltreffende waarskuwingstelsel is nodig. “Dit behels dat elkeen wat voorvalle van PPR teëkom, moet bewus wees van die simptome en die nodige stappe om die verspreiding daarvan te stuit.”

Hy het ’n beroep op Dieregesondheid gedoen om sy gebeurlikheidsplan beter met die rolspelers soos die veeartse en veeprodusente op voetsoolvlak te deel. “Ons het nou tyd om ons voor te berei voor die eerste geval op eie bodem. Soos met die verwoestende voorkoms van slenkdalkoors in die onlangse verlede, kan diere nie tydens die uitbreking teen die siekte ingeënt word nie omdat dit te vinnig versprei,” sê hy.

Mnr. Bertus van Heerden, besturende direkteur van Agri Inspec, sê die onlangs verskerpte maatreëls vir die invoer van lewende hawe uit buurlande word behoorlik toegepas. Hy het sy tevredenheid uitgespreek na ’n besoek aan grensposte en sê hy is vol vertroue dat die huidige invoerregulasies beter beheer oor die verspreiding van dieresiektes uitoefen. “Dit bied nou baie beter beskerming teen siektes as vantevore,” sê hy.

Dr. Mpho Maja, direkteur van Dieregesondheid, sê die rooivleisbedryf en veeprodusente bejeën nie dieregesondheid op plaasvlak met die nodige erns nie. “Dieregesondheid op plase word slegs as die verantwoordelikheid van die staat beskou,” sê sy. “Individuele boere moet die verantwoordelikheid aan die dag lê om onder meer nie diere van onbetroubare bronne aan te koop nie. Indien wel, moet aangekoopte diere eers afgesonder en vir siektes getoets word voordat hulle by die res van die kudde ingesluit word. Veeboere moet ook inentingsprogramme behoorlik nakom.”
landbou.com

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.