On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Yellow Door

Grootmensbril

───   CATHY DE LANGE 13:24 Mon, 26 May 2014

Grootmensbril | News Article

'n Grootmensbril is iets wat ons elkeen op een of ander stadium in ons lewe moet opsit. Cathy de Lange se grootmensbril het haar 'n klomp goed laat raaksien.

Die dag wat jy jou grootmensbril opsit is 'n goeie dag.  Dis 'n  goeie dag omdat jy nou jou motor liksens mag kry, nagmaalwyn mag drink, 'n tjekboek kan teken, heeldag hoë hakskoene mag dra en sweets vir aandete kan eet as jy wil. Jy kan wakker bly so laat as wat jy wil en op die teevee kyk net wat jy wil. Hierdie grootmensbril is 'n lekker ding om te dra! Ek het ook so grootmensbril. En die dag toe ek 'n mamma word het my lense ? hele klomp goed begin raaksien...

Soos dat jý nou die een is wat moet sorg vir petrol, skoolgeld, klere, medisyne, sakgeld en kos op die tafel. My grootmensbril het my laat sien dat, voor jy daai tjek kan teken, daar eers geld in die bank moet wees. Dat jy moet sorg dat jou kinders genoeg wintersklere het voor jy vir jouself daardie mooi nuwe paar hakskoene kan koop. Dat mens moet begroot vir 'n vakansie met roomys en uiteet en dat dit nie sommer outomaties gebeur wanneer die skool sluit nie. Dat jy die een is wat skaars kan wakker bly by die werk nadat jy 'n hele nag lank langs jou kind se bed gesit het omdat sy siek was, en jy kort-kort so saggies as moontlik haar temperatuur moes vat sonder om haar wakker te maak.

My grootmensbril het my ook laat besef wat my eie ouers moes deurmaak om dit vir my as kind lekker te laat lyk om eendag ook 'n grootmensbril te dra. Die feit dat hulle saans, wanneer ek snoesig in droomland gekuier het, hul sit en bekommer het oor finansies, sodat ek nie nodig gehad het om te twyfel of ek die kamp sal kan bywoon of nie. Die vroeg opstaan om seker te maak my skoolklere en sportsak staan reg en my ontbytpap is gemaak, sodat ek my dag rustig kan begin. Die bid op hul knieë elke liewe aand sodat goedheid en guns my sal volg elke dag van my lewe.
Ja, 'n grootmensbril is 'n moeilike ding om te dra en ja, dit bring baie bekommernisse. 'n Grootmensbril bring egter ook baie vreugde. Soos om 'n mamma te kan wees en deur daardie bril die opregtheid van jou dogtertjie te kan sien as sy vir jou sê: “Mamma ek lief jou honderd en duisend veertig baie!”. Die lekker van vroeg oggend, wanneer die huis nog stil is, 'n kosblik te pak en 'n briefie te kan insit wat sê: “Mamma lief jou, geniet jou dag”. Die grootmensbril wat jou die waarde laat sien van iets wat jy uiteindelik kan koop waarvoor jy wraggies lank gespaar het en TWEE nuwe paar skoene voor moes prysgee!

As ek nooit my grootmensbril opgesit het nie, sou ek dalk nie besef het dat my ouers ook een gedra het nie. Miskien sou ek nooit die waarde besef het van wat dit vat om so 'n bril te dra nie, en dit dalk nooit opreg waardeer het nie. So ek dra my grootmensbril met trots, want weet jy wat ? Na al die rekeninge en petrol en kos en klere... is dit tóg lekker om 'n grootmens te wees.
Twitter: @cathydelange

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.