On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Rowers van Noordwes-hof na Limpopo-hof vir string aanklagte

───   KEKELETSO MOSEBETSI 10:02 Mon, 01 Apr 2024

Rowers van Noordwes-hof na Limpopo-hof vir string aanklagte  | News Article
Foto: Facebook

Die polisie het toegeslaan en hulle in besit van kontant, selfone en ander vermoedelik gesteelde items gevind.

’n Groep van vyf vermeende rowers van tussen 32 en 43 jaar verskyn vandeesweek in landdroshowe in Noordwes en Limpopo op ’n string aanklagte.

Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die vyf verdagtes, Kholofelo Makuwa, Tshepo Sehulane, Christopher Majuwane, Thabo Motshwanedi en Donald Mpiyane het Woensdag (27/3) in die Bafokeng-landdroshof in Tlhabane verskyn op twee afsonderlike aanklagte van roof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Hulle verskyn weer op Woensdag (3/4) in dié hof om aansoek om borgtog te doen.

Die beskuldigdes is ná hul hofverskyning na Jane Furse in Limpopo geneem waar hulle na verwagting Dinsdag (2/4) in die hof sal verskyn op verskeie aanklagte wat verband hou met roof en ander oortredings.

Hulle is op Sondag 18 Maart in Phokeng naby Rustenburg in hegtenis geneem nadat ’n lid van die gemeenskap agterdogtig geraak en die polisie in  kennis gestel het. Drie verdagtes is in hegtenis geneem nadat hulle in besit van kontant, selfone en ander vermoedelik gesteelde items gevind is.  

“’n Verdere ondersoek het daartoe gelei dat nog drie verdagtes in hegtenis geneem is. Beslag is ook gelê op ’n wit Volkswagen Polo wat glo tydens die uitvoer van die misdade gebruik is. Die sesde verdagte is later vrygelaat,” sê Funani.

Noordwes se polisiekommissaris, lt.-genl. Sello Kwena, het die polisie en die gemeenskap bedank vir hul volgehoue ondersteuning in die bekamping van misdaad.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.