On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Nolwethu
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Local News

Dit is vreemd dat die vuurwapens 'skoon' was: GW-stad-moordverdagte

───   LANI FOUCHÉ 15:47 Mon, 18 Nov 2013

Dit is vreemd dat die vuurwapens 'skoon' was: GW-stad-moordverdagte | News Article
Lani Fouché
 
Kimberley - Die minderjarige Griekwastad-moordbeskuldigde het vandag erken dat dit vreemd is dat die moordwapens nie merke opgehad het wat daarop dui dat dit buite in die veld gelê het nie.
 
Die staat voer verder aan dat dit onwaarskynlik was dat hy die .22 geweer en .357 rewolwer sou kon sien lê tussen die gras, waar hy beweer hy gestop het om dit op te tel.
 
Die 17-jarige seun wat verdink word van die moorde op Deon, Christel en Marthella Steenkamp op hul plaas Naauwhoek verlede jaar, getuig self vandag en is tans onder kruisondervraging van die verdediging se Hannes Cloete is.

Die seun het onder ondervraging van die verdediging se Adv. Willem Coetzee getuig dat hy in die waenhuis besig was om ‘n skietlamp se draad heel te maak toe hy ‘n skoot gehoor het.
 
Hy het aanvanklik gedink dit was ‘n skoot wat per ongeluk afgevuur is, maar die skote wat daarop gevolg het, het hom laat besef dat daar “iets fout” is binne die huis. Hy het toe vir ‘n ruk, wat vir hom “baie lank” gevoel het, in die skuur weggekruip.
 
Toe die skote ophou, is hy die huis binne, waar hy vir Deon op sy maag aangetref het met sy voete na die gang se kant toe. Hy sê Christel en Marthella was in sit-lê posisies langs mekaar.
 
Marthella kon volgens hom tot op haar voete orent kom waarna sy teenaan hom gestaan het en sy hemp in die proses geskeur het. Daar het sy vir hom gesê dat sy lief is vir hom en dat sy nou gaan sterf. “Sy het bloed aan haar klere en gesig gehad, maar ek kan nie onthou presies hoeveel nie,” het hy getuig.
 
Hy het toe ‘n ander hemp aangetrek omdat die een wat hy aangehad het vol bloed was. Hy onthou dat sy hande en arms ook vol bloed was. Toe is hy vir ‘n tweede keer skuur toe waar hy in die Isuzu-bakkie wou klim om te ry.
 
Toe hy daar kom, het hy egter nog skote gehoor wat sagter as die eerstes was. Hy het weer op dieselfde plek as vroeër weggekruip vir ‘n kort rukkie en toe met die bakkie uitgejaag op pad polisiestasie toe.
 
Naby die plaashek waar die werkershuise was, het hy geskree dat die Steenkamps geskiet is. Daar het hy ook die wapens in die veld gesien en dit opgetel, “want ek wou hê die aanvallers moet sien dat ek gewapen is.”
 
Hy het eers droë skote afgevuur en dit toe op die agterste sitplek gesit. Cloete het gesê hy vind dit vreemd dat, as hy homself wou beveilig, hy die wapens op die agtersitplek gesit het en nie minstens een op sy skoot gehou het nie. Hy het hierop geantwoord dat leë wapens vir hom nutteloos was.
 
Cloete het hom ook uitgevra oor waarom hy gedink het dit veilig was om die huis binne te gaan nadat hy vir die eerste keer in die waenhuis weggekruip het.
 
“Daar is vroeër getuig dat jy gedink het ‘Ah, dis ‘n plaasaanval’, reg? Wat gebeur tydens plaasaanvalle? Mense word aangeval, en goed word gesteel. Wat het jou laat dink dit is veilig om in te gaan?”
 
Die seun het geantwoord, “Toe die skote ophou het ek gedink dis veilig.”
 
Die verhoor duur voort.
 
 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.