On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Local News

Griekwastad-moordbeskuldigde vandag weer in die getuiebank

───   LANI FOUCHÉ 06:11 Tue, 19 Nov 2013

Griekwastad-moordbeskuldigde vandag weer in die getuiebank | News Article
Lani Fouché
Kimberley - Die staatsaanklaer in die Griekwastad-driedubbelle moordverhoor het die aangeklaagde daarvan beskuldig dat hy speletjies speel deur sy feite kort-kort aan te pas.
 
Staatsadvokaat Hannes Cloete het die 17-jarige seun gister in die hooggeregshof in Kimberley onder strawwe kruisondervraging geneem waartydens die tiener sommige vrae nie kon beantwoord nie.
 
Die seun word verdink van die moorde op Deon, Christel en Marthella Steenkamp op hul plaas Naauwhoek verlede jaar.
 
Volgens vroeëre getuienis wat die hof aangehoor het, het die seun aan verskillende mense versillende redes verskaf oor waarom hy op Goeie Vrydag verlede jaar, oomblikke voor die Steenkamps vermoor is, besluit het om waenhuis toe te gaan.
 
Cloete het geïrriteerd gevra waarom hy speletjies speel met al die betrokkenes, waarop hy geantwoord het dat hy nie aanvanklik gedink het dit sou so belangrik wees om te sê waarom hy skuur toe is nie.
 
Regter Frans Kgomo het ook bevraagteken waarom hy nie die skuur se lig aangeskakel het terwyl hy die skietlamp wou heelmaak nie. Hy’t gesê dit was nog nie nodig nie, omdat die werksbank naby ‘n venster was en daar nog genoeg daglig oor was. Die seun het uiteindelik ook erken dat dit nie vir hom na ‘n tipiese plaasmoord gelyk het nie.

Die seun het getuig dat hy nie saamstem met vorige getuies dat die Steenkamps se honde vir vreemde mense sou blaf en sodoende vir die gesin alarm maak nie, omdat “die honde vir enigiets geblaf het”.
 
Cloete het gevra waarom hy nie sy advokate van dié diskrapansie in kennis gestel het nie, waarop hy nie ‘n antwoord gehad het nie.  “Ek het dit seker nie gehoor nie... Dit was my fout. Ek het opgeslip,” het hy gesê.  Oor ander getuienis, deur familievriende en familielede gelewer, dat die Steenkamps uiters veiligheidsbewus was, het die seun ook nie saamgestem nie. Hy het ook nie hierdie geskil aan sy verdedigingspan uitgewys nie, en het weer erken dat hy daarmee ‘n fout begaan het.  

“Vir jou storie om te klop is dit belangrik dat die agterdeur oop moes wees. Dis al hoe die aanvaller toegang tot die huis kon kry,” het Cloete gesê.  En om dit te steun, moes daar getuig word dat die Steenkamps nie veiligheidsbewus was nie.  Cloete: “Paul Botha het dan self getuig dat veral Marthella baie bedag was op veiligheid.”  Seun: “Ek het dit nog nooit so ervaar nie.”
Die staat beweer ook dat die seun nie die vuurwapens buite in die veld kon sien lê toe hy, sonder die bakkie se hoofligte aan, daar verbyry nie.  Dit was ook skoon en sonder krapmerke.  “Ja, dit is vreemd,” het die seun erken.

‘n Moontlikheid, het die seun gesê, is dat ‘n booswig toegang tot die huis kon kry deur die agterdeur terwyl die Steenkamps buite die voordeur na ‘n watergat gekyk het.  
 
Daar is ‘n spasie tussen die bed en muur in die hoofslaapkamer waar hy of sy moontlik kon wegkruip, het hy gesê.  
 
Cloete glo dit ook nie.  “Die person moes te voet by die plaas opgedaag.  Die Steenkamps se huis was skoon. 'n Mens sou so 'n persoon in die huis kon ruik. Hy sou ook hard asemhaal.  En hy moes vir 44 minute daar wegkruip voordat die skietery begin het.  Waarom sou hy dit doen?  Waarom sou hy daar wag om uitgevang te word?  Dis baie onwaarskynlik.”
 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.