On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Rugby

Smith erken as Afrigter van die Jaar

───   MORGAN PIEK 13:28 Wed, 24 May 2023

Smith erken as Afrigter van die Jaar  | News Article
Franco Smith - Morgan Piek

Die voormalige Vrystaat-breier en Springbok losskakel, Franco Smith, het ’n groot eerbewys ontvang ná sy uitstaande eerste seisoen by die Glasgow Warriors in Skotland.

Die 50-jarige Smith is aangewys as die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) se Afrigter van die Jaar.

Die 50-jarige Smith, wat die Cheetahs in 2016 en 2019 na die Curriebeker-titel gelei het, het kompetisie van veral iemand soos John Dobson van die Stormers uitgestof vir die toekenning. Dobson is die enigste afrigter wat in twee finale van die VRK betrokke sal wees, en sy naam is ook genoem as ’n moontlike aanspraakmaker vir die Springbok-pos ná afloop van die Rugby Wêreldbeker in Frankryk.

Smith se Glasgow span het vierde op die punteleer van die VRK geëindig, maar hulle het egter in die kwarteindrondte met 14-5 teen Munster vasgeval. Munster speel vandeesweek in Kaapstad in die eindstryd van die reeks teen die Stormers. Die Warriors het ook verlede Vrydag in Dublin, Ierland, teen Toulon van Frankryk in die eindstryd van die Europese Uitdaagreeks gespeel. Daar het die Franse span met 43-19 koning gekraai.

Smith het aan OFM Sport gesê dat die eerbewys as ’n groot verrassing gekom het, maar sy spelers verdien die lof.

“Dit het as 'n groot verrassing gekom en ek het dit glad nie verwag nie,” het Smith van die lughawe af gesê.

“Om deur die ander afrigters en direkteure van die ander VGK-spanne gekies te word, is natuurlik buitengewoon, en ek waardeer dit baie.

“Ek het sonder ondersteuningspersoneel by Scotstoun aangekom en ek het nie een van die spelers geteken nie. So ek is dankbaar dat hulle gereageer het op wat ek wou hê, en hoe ek wou hê hulle moet die spel speel asook hoe ek gedink het ek hul uitslae kon beïnvloed . Die lof moet na hulle toe gaan omdat hulle daarop ingekoop het.

“Al die spelers met wie ek werk en almal wat my ken, weet dat ek nie regtig werk om toekennings te kry nie, so dit is 'n absolute bonus en dit sal as motivering dien om die beste te wees wat ek kan wees. Alle eer aan God!”

Smith is op pad terug na Bloemfontein vir ’n welverdiende blaaskans voordat hy die 2023/24-seisoen sal aanpak.

Morgan Piek OFM Sport

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.