On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Moenie medikasie ná hul vervaldatum gebruik

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:23 Mon, 29 Apr 2024

Moenie medikasie ná hul vervaldatum gebruik  | News Article
Foto: Medicusplus

“Die vervaldatum dui aan die medisyne moenie meer geneem word ná die einde van die maand wat gegee is nie.”

Het jy al ooit in jou medisynekas gedelf en ’n klomp bottels en bokse opgegrawe? In ons besige lewe is dit maklik om tred te verloor met tyd en medisyne beweeg stilweg na hul vervaldatum.

Alle medisyne en ander verbruiksgoedere word met vervaldatums vervaardig. Die eerste is die besendingnommer, ’n verwysing wat die vervaardiger gebruik om medisyne op te spoor. Dit is gewoonlik ’n mengsel van syfers en letters. Die tweede stel is die vervaldatum, sê dr. Chantelle van der Bijl, ook bekend as Bloem MomDoc op sosiale media.

‘Dit kan meer skade as goed doen’

’n Vervaldatum is ’n voorafbepaalde datum waarna die medikasie nie meer gebruik moet word nie. Volgens Van der Bijl kan hitte, lug, lig en vog die doeltreffendheid en veiligheid van medisyne beïnvloed. “Sodra die vervaldatum verby is, is daar geen waarborg dat die medisyne veilig en doeltreffend sal wees nie, en dit kan meer skade as goed doen.

“As die medikasie anders lyk, ruik of smaak as toe jy dit eerste geneem het, gooi dit weg of vra jou apteker vir raad.”

Moenie medikasie ná hul vervaldatum gebruik nie. Foto: Litnet

Die veiligheid en stabiliteit van medisyne kan ook aangetas word wanneer dit die vervaldatum bereik het. Sy waarsku egter dat sommige antibiotika nier- en lewerskade veroorsaak wanneer dit ná hul vervaldatum geneem word. Dit kan ook ernstige velreaksies, allergieë en irritasie veroorsaak.

Studies toon dat baie medisyne ’n langer raklewe ná hul vervaldatum kan hê. Dit is egter moeilik om te voorspel watter produk ’n verlengde raklewe kan hê. Dit sal afhang van bestanddele, preserveermiddels, temperatuurskommelings, lig, humiditeit en ander bergingstoestande. Sodra ’n medikasie in ’n ander houer verpak word, soos dikwels in apteke gebeur, kan die raklewe ook afneem.

‘Die vervaldatum is die laaste dag waarop die vervaardiger medikasie waarborg’

Van der Bijl verduidelik die vervaldatum dui aan die medisyne moet nie meer geneem word ná die einde van die maand wat gegee is nie. “As die vervaldatum Julie 2024 is, moet jy nie die medisyne ná 31 Julie 2024 neem nie. Die vervaldatum is die laaste dag waarop die vervaardiger die volle sterkte en veiligheid van ’n medikasie waarborg.

“Indien die medisyne ’n voor- of gebruiksdatum in plaas van ’n vervaldatum het, beteken dit gewoonlik dat jy nie die medisyne ná die einde van die vorige maand moet neem nie. Dus, as die gebruiksdatum April 2024 is, moet jy nie die medisyne ná 31 Maart 2024 neem nie.”

Maak seker op die verpakking wanneer die vervaldatum is. Foto: Getdoc

Van der Bijl sê antibiotika wat hersaamgestel is (’n poeier gemeng met ’n vloeistof) kan nie langer as sewe tot 14 dae ná rekonstitusie gebruik word nie, en dat dit aan die einde van die kursus weggegooi word. “Hierdie medisyne kort gewoonlik verkoeling en het dalk nie die nodige krag as dit verouderd gebruik word nie.

“Verlies aan sterkte beteken dat die medisyne nie so doeltreffend sal wees as wat dit behoort te wees nie en ’n groot gesondheidsprobleem kan wees, aangesien dit die infeksie nie goed sal behandel nie. Die infeksie kan herhaal of weerstandig word teen daardie tipe antibiotika.”

‘Pille moet nie in die asblik gegooi word nie’

Oogdruppels is slegs veilig vir 30 dae nadat die houer oopgemaak is en moenie langer gehou word nie. Volgens Van der Bijl bevat oogdruppels preserveermiddels en indien dit verval het, kan ’n bakteriese groei in die oplossing ontstaan wat kan lei tot ’n nare oogontsteking, en in uiterste gevalle kan jy jou sig verloor.

Medisyne wat verval het, kan na enige apteek terugbesorg word. “Stroop moet nie in die drein gegooi word nie, aangesien dit grondwater kan besoedel. Pille moet nie by die huis in die asblik gegooi word nie, aangesien dit per ongeluk deur kinders ingeneem kan word, selfs op stortingsterreine. Rondloperdiere of jou troeteldiere kan ook swartvullissakke oopskeur en die medikasie inneem,” sê Van der Bijl.

Jy kan jou medikasie na die apteek terugneem sodra dit verval het. Foto: Healthdoc

Die behoorlike berging van medikasie kan help om hul sterkte te verleng. In teenstelling met algemene praktyk, is badkamer- en kombuiskaste nie ideale plekke om medisyne te stoor nie weens hitte en humiditeit. Net so moet medikasie nie in ’n warm motor gelaat word nie.

Sy sê medikasie bly stabiel in droë, koel ruimtes weg van sonlig en sy beveel aan dat dit in gang- of slaapkamerkaste gebêre word.

Elri Beukes, ’n geregistreerde en gekwalifiseerde apteker, het Van der Bijl gehelp met die samestelling van haar rubriek oor medisyne se vervaldatums.

• Met hierdie berig wil OFM Nuus nie enige siekte diagnoseer of behandeling daarvoor voorstel nie. Raadpleeg jou gesondheidspraktisyn vir deskundige raad.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.