On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Nasionale Arabierperdskou bring glans na Bloemfontein-skouterrein

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Tue, 30 Apr 2024

Nasionale Arabierperdskou bring glans na Bloemfontein-skouterrein | News Article
Die reun HA Braveheart (eienaar, Marlize van der Walt) en sy hanteerder, JJ Kemp, tydens verlede jaar se kampioenskappe. ('n Gekastreerde hings is 'n reun.) Foto verskaf

Die Nasionale Arabierperdkampioenskap is een van die vele glansgeleenthede wat deel uitmaak van vanjaar se landbouprogram tydens die Bloemskou.

Die kampioenskap, wat deur die Suid-Afrikaanse Arabierperdgenootskap gereël word, is ’n hoogtepunt vir liefhebbers en telers van hierdie pragtige diere dwarsoor Suid-Afrika.

Die genootskap, wat een van die oudstes en grootstes in Suid-Afrika is, het ’n indrukwekkende 300 lede en ’n registrasie van meer as 1 200 perde.

Die President van die Suid-Afrikaanse Arabierperdgenootskap, Zadia Schutte, vertel dat die nasionale kampioenskappe ’n geleentheid vir telers bied om hul jaar se harde werk en bloedlynbeplanning ten toon te stel. 

Met beoordelaars soos Isaac Taylor, ’n internasionaal bekende teler uit Amerika, en Amelia Scheepers, ’n Suid-Afrikaanse beoordelaar en lid van die nasionale paneel vir Engelse ryklasse, is daar ’n ware verteenwoordiging van kundiges om die beste diere te identifiseer.

 

Die skou bied verskeie afdelings wat toeskouers kan geniet. Die inhand-klasse, waar perde aan ’n leiband vertoon word in hul volle glorie, is altyd ’n treffer, veral vir dié wat die pronkerige aard van Arabierperde waardeer. 

Die tradisionele kostuumklasse, waar perde versier word in oorlogskostuums, bied ’n blik op die geskiedenis en kultuur van die Arabierperd. Die liberty-klasse, waar perde op musiek rondbeweeg in die arena, is ’n skouspel wat die harte van toeskouers steel.

Die Nasionale Arabierperdskou is nie net ’n geleentheid vir kompetisie nie, maar ’n viering van die skoonheid, elegansie en prestasies van hierdie pragdiere.

Reserwe-kampioenhings 2023 Sidi Al Raja (eienaar Jack Maritz) en Kampioenhings 2023 El Galal Baahir (eienaar Jaco Koen, hanteerder Ocker Bruyns). Foto verskaf

OFM/Agriculture cg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.