On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Local News

GW-stad: Minderjarige en skool skik buite hof

───   16:09 Wed, 19 Sep 2012

Mariné Jacobs

Die 16-jarige seun wat aangekla word van die Griekwastad trippel-moord op die Steenkamp gesin en sy hoërskool in Bloemfontein het buite die hof geskik.

Die twee partye sou môre in die Bloemfonteinse Hooggeregshof verskyn het, nadat die seun se voog hom na die hof gewend het om die seun terug op die skoolbanke te kry.

Volgens die minderjarige se prokureur, Stoffel de Jager, is ‘n ooreenkoms met die skool bereik wat bepaal dat die seun tuisonderrig sal ondergaan terwyl die skool alle nodige leermateriaal aan hom sal verskaf.

Die seun bly onomwonde ‘n leerling van die skool en kan ook onderwysers kontak indien hy enige vrae omtrent sy skoolwerk het. Volgens De Jager verskil hierdie ooreenkoms van die oorspronklike onderhandelinge met die skool, maar hy wou nie verder besonderhede verstrek nie.

Die seun is op 3 September borgtog van R5000 in die Griekwastad Landdroshof toegestaan. Hy word daarvan beskuldig dat hy Deon, Christel en Marthella Steenkamp op Goeie Vrydag op hul plaas, Naauwhoek, doodgeskiet het.

Die staat het intussen teen die borguitspraak geappèlleer en die appèl sal volgende week in die Noord-Kaapse Hooggeregshof aangehoor word.

Die naam van die seun se skool is aan OFM bekend, maar word op regsadvies weerhou.



Die minderjarige seun se prokureur, Stoffel de Jager, buite die Griekwastad Landdroshof. Foto: Mariné Jacobs

More from Local News

You May be Interested in

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.