Yellow Door
Janie du Plessis deur die sleutelgat─── 06:00 Fri, 19 Apr 2013
Ons ken Janie du Plessis op televisie, op tydskrif-voorblaaie, as akteur en filmster, as skrywer, as eiendomsontwikkelaar en mees onlangs as kanker-aktivis.
Watter sintuig speel die grootste rol in jou lewe
SIEN. Dit is vir my wonderlik om te kan sien. Wat ek sien maak my kreatief. Ek hou veral van groot landskappe en tel altyd die horisonne en die skakerings van dieselfde kleur in ‘n prentjie voor my. Ek neem foto’s en probeer sover moontlik vasvang wat my oë sien. As ek na mense kyk is ek altyd bewus van hulle oë, want dit voel vir my asof ek hulle siele kan sien. Ek is baie bang vir die donker, want in die donker kan ek nie sien nie.
Beste kinderherinnering
Daar’s so baie. Ek onthou nie hartseer of ongeluk nie. Ek onthou tye van stilte en kreatiwiteit in ons huis toe my pa geskryf en my ma geteken het. Ek onthou die reuk van my pa se hare as ek dit gekam het toe ek ‘n dogtertjie was en ek onthou hoe sag my ma se hande was as sy saam met my in die winkel geloop het. Ek onthou hoe oorverdowend hard my pa sy klassieke musiek gespeel het as ons voor die kaggel op die mat ons huiswerk gedoen het in die winter.
Death row maaltyd
Geroosterde peri peri hoender (met eksta peri peri)
Jou grootste tekortkoming
Ek het nie die vermoë om vir die mense vir wie ek lief is, te wys hoe diep my liefde lê nie.
Kosbaarste besitting
My iPod
Wat verveel jou
Skinder
Die trotsste oomblik van jou lewe
Ek is trots op my twee seuns.
Noem een ondeug
Ek pak dikwels te veel dinge aan.
Wat maak jou bang
Onsekerheid
In watter land, buiten SA sou jy graag wou woon en hoekom
Ek is gemaklik in enige plek, maar as ek regtig sou moes kies, sal ek seker iewers in die hartjie van ‘n groot stad wou bly. Parys, Rome, Madrid, New York of so iets. Ek hou van die lawaai van ‘n stad en om in ‘n plek te bly waar jy kan stap en jouself kan stimuleer. Dit sal dan afgewissel moet word met ‘n 2de blyplek in SA, iewers op die platteland.
