On Now
Weekends 13:00 - 16:00
Saterdag Siësta Yvette
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

National

BBC wonder oor wittes se toekoms in SA

───   09:21 Tue, 21 May 2013

Johannesburg -  'n Berig oor die toekoms van witmense in Suid-Afrika wat onlangs op die BBC se webwerf verskyn het, het gemengde reaksie ontlok, berig Eyewitness News.

John Simpson, redakteur van wêreldsake by die BBC, skryf in die berig hoewel sommige witmense die beste huise en beroepe het, is daar armoede en toenemende kwesbaarheid onder die oppervlak.

Daniel Silke, ’n onafhanklike politieke ontleder, het gesê die siening is verkeerd omdat baie wit gemeenskappe steeds 'n leefstyl van 'n hoë standaard geniet.

"Dit is selektiewe beriggewing. Ek dink nie die berig het enige invloed op die plaaslike politieke situasie nie... Dit dra by tot die verwarring en algemene negatiewe siening van Suid-Afrika."

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, het gesê hulle wou die ANC-regering opsetlik op ’n internasionale vlak verneder om druk op hulle te plaas om iets te doen, berig Beeld.

“Ons wou druk plaas op die ANC, want daar word niks aan plaasmoorde en arm wit mense gedoen nie.”

Roets het Simpson na Sonskyn Hoekie, ’n wit plakkerskamp in Pretoria, geneem.

Simpson het spesifiek gevra om na ’n wit plakkerskamp te gaan, daarom het hy hom nie na ’n swart plakkerskamp geneem nie, het Roets gesê.

Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, het gesê sulke uitlatings kan ’n land se beeld baie skade berokken. “Hoe kan jy jou eie land so slegsê?”

Misdaad, geweld en werkloosheid diskrimineer nie en om wit mense as teikens uit te beeld, is roekeloos, meen Mthembu.

“Die meeste mense wat in informele nedersettings woon, is swart.

“Hoekom het Roets die BBC nie na ’n swart plakkerskamp geneem nie? Dit is ’n verwronge beeld wat geskep word.”

Mthembu het gesê Suid-Afrika het ongetwyfeld ’n magdom probleme.

“Ons moet saamwerk. Hierdie is jou land, jy het nie ’n tweede land nie. As jy nie hier wil woon nie, moet jy elders heen gaan.”

EWN

More from National

You May be Interested in

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.