On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Human Interest

Bejaarde egpaar aangeval, beroof op plaas by Senekal

───   13:00 Thu, 26 Mar 2015

Bejaarde egpaar aangeval, beroof op plaas by Senekal | News Article

Senekal - “Ons is ongelooflik dankbaar dat hulle leef!“

Dit is die reaksie van Zelda Stemmet, skoondogter van Dries (69) en Fransie (70) Stemmett, na die egpaar Woensdagaand (25 Maart 2015) in hulle slaapkamer deur vier verdagtes oorval en beroof is. Die voorval het vermoedelik tussen 22:30 en 23:00 plaasgevind. Dries het reeds geslaap, en Fransie was besig om te werk toe ’n groot klip deur hul kamervenster gegooi is.
 
Fransie het na haar wapen gegryp, maar die aanvallers het haar van agter gegryp en haar aangesê om nie enige iets “dom” te doen nie. Die mans het Afrikaans gepraat en aangedui dat hulle nie daar was om die egpaar te vermoor of om haar te verkrag nie, maar slegs wapens en kontant wou hê. 
 
Dries het wakker geword van Fransie se gille, en is met ‘n groot klip oor die kop geslaan toe hy haar wou help. Sy hande is vasgebind en hy is na ‘n ander slaapkamer gesleep waar die aanvallers hom gelos het. Die verdagtes het die kluis se sleutel opgespoor en ’n onbekende bedrag geld, ses wapens asook selfone gesteel. Die aanvallers is vermoedelik met ’n voertuig langs die N5, wat naby aan die plaas verbyloop, afgelaai. Hulle het vermoedelik te voet op die plaas aangekom en weer te voet na die voertuig gevlug.
 
Na die aanvallers weg is, is die plaaslike veiligheidstruktuur geaktiveer en die polisie in kennis gestel.
 
Die aanvallers is nog soek, maar leidrade word tans opgevolg. Een van die gesteelde wapens is reeds in die veld gekry.
 
Vrystaat Landbou sal sy grondstrukture bystaan soos versoek, wat onder andere traumaberading vir slagoffers en die gemeenskap insluit. Die sukses wat die flinke optrede van die plaaslike veiligheidstruktuur hier teweeg gebring het, is ‘n duidelike aanduiding dat gemeenskapsveiligheidstrukture onontbeerlik is in die stryd teen landelike misdaad. Vrystaat Landbou vertrou dat die aanvallers so gou moontlik aangekeer sal word.
 
Toename in rowe op plase
Intussen sê Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou se Wet en Orde komitee, die organisasie is bekommerd oor die toename in voorvalle van geweld op plase wat in die provinsie waargeneem kan word.
 
“Ons wil landbouers weereens aanmoedig om hul eie veiligheid op te skerp en sover moontlik nie kontant op plase of in hul huise te hou nie.”
 
Vrystaat Landbou het vroeër die jaar ’n lys van voorsorgmaatreëls vir veiligheid op plase saamgestel wat aan al ons lede gekommunikeer is in nuusbriewe en ook op ons webtuiste beskikbaar is.
 
“Evalueer jou veiligheidstelsels in plek en bepaal of jy daaraan voldoen,” vra Esterhuyse.
 
Esterhuyse sê die organisasie wil die Polisie loof vir hulle flinke optrede in dié voorval. Hy bedank ook die landbouers van die provinsie vir hulle spoedige optrede die afgelope paar weke wanneer plaaswagte geaktiveer is in reaksie op voorvalle of om voorvalle te voorkom. 
 
Vrystaat Landbou werk baie nou met die Polisie saam om aan die hand van die Landelike Beveiligingsstrategie misdaad te probeer bekamp in die provinsie, deur byvoorbeeld gereelde deelname aan wit/bloulig aksies asook plaaswag patrollies.
 
In Maart en April bied die Polisie in samewerking met die organisasie werksessies regoor die provinsie aan om landbouers in te lig oor hoe om betreding op plase, besettings, noodweer asook siviele arrestasies te hanteer. Die sessies bemagtig landbouers om hul paraatheid op te skerp en dit sal voortdurend onderneem word. Pro-aktiewe optrede soos dié is ook ’n boodskap aan kriminele dat landelike gemeenskappe nie misdaad duld nie.
 
- Verklaring verskaf

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.