On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Fakkel vir Olimpiese Spele 2024 aangesteek

───   13:30 Tue, 16 Apr 2024

Fakkel vir Olimpiese Spele 2024 aangesteek | News Article
Die Griekse aktrise Mary Mina het die vlam in ’n pot gedra en die fakkel aangesteek vir die eerste draer, 2020 Olimpiese roeikampioen, Stefanos Ntouskos. Foto: X

“Vandag is die Olimpiese Spele die enigste gebeurtenis wat die hele wêreld in vreedsame mededinging kan byeenbring.”

Die vlam vir die Olimpiese Spele 2024 in Parys is Dinsdag (16/4) aangesteek by die antieke tempel van Hera op die argeologiese terrein Olympia, geboorteplek van die Olimpiese Spele in Suid-Griekeland, tydens ’n seremonie wat deur geskiedenis geïnspireer is en gekenmerk word deur boodskappe van hoop te midde van veelvuldige wêreldkrisisse.

“In antieke tye het die Olimpiese Spele die Griekse stadstate bymekaargebring, selfs – en veral – tydens tye van oorlog en konflik,” het Thomas Bach, president van die Internasionale Olimpiese Komitee, gesê.

“Vandag is die Olimpiese Spele die enigste gebeurtenis wat die hele wêreld in vreedsame mededinging kan byeenbring. Toe, soos nou, dra die Olimpiese atlete hierdie kragtige boodskap uit: Ja, dit is moontlik om fel teen mekaar mee te ding en terselfdertyd vreedsaam onder een dak saam te leef,” het hy gesê.

Die vlam sou met ’n paraboliese spieël aangesteek geword het, maar weens bewolkte weer het aktrises wat die rol van antieke Griekse priesteresse vertolk het ’n vlam gebruik wat Maandag tydens ’n repetisie daar in die 2 600 jaar oue Heratempel, naby die stadion waar die Olimpiese Spele in 776 v.C. ontstaan het, aangesteek is.

Die Griekse aktrise Mary Mina het in haar rol as die hoëpriesteres die vlam in ’n pot gedra en die fakkel vir die eerste draer, Stefanos Ntouskos, die Olimpiese roeikampioen in 2020, aangesteek.

Amptenare het Dinsdag beklemtoon dat die Paryse Spele nuwe mylpale sal stel, na aanleiding van die nalatenskap van die twee vorige Olimpiese Spele wat in die Franse hoofstad gehou is.


“Hierdie Olimpiese Spele sal jonger, inklusiewer, meer stedelik en meer volhoubaar wees. Dit sal die heel eerste Olimpiese Spele met volle geslagsgelykheid wees, want die komitee het presies 50% van die plekke aan vroulike en 50% aan manlike atlete toegeken,” het Bach gesê.

Tony Estanguet, hooforganiseerder van die Olimpiese Spele in Parys, het opgemerk dat vroue vir die eerste keer aan die Paryse Spele in 1900 deelgeneem het, terwyl die eerste Olimpiese dorp vir die Paryse Spele in 1924 gebou is.

Die fakkel verwys terug na die antieke Olimpiese Spele toe ’n heilige vlam dwarsdeur die Spele gebrand het. Die tradisie het in 1936 tydens die Berlynse Spele herleef.

Die Olimpiese fakkel sal op 26 April in Griekeland aan die organiseerders van Parys 2024 oorhandig word tydens ’n seremonie by die Panathinaiko-stadion – volledig van marmer gebrou, met ’n kapasiteit vir 80 000 mense – die terrein van die eerste moderne Olimpiese Spele van 1896. Tienduisend fakkeldraers sal die fakkel deur 64 Franse gebiede dra.

Die fakkel sal deur 400 dorpe en tientalle toeristeaantreklikhede reis tydens sy 12 000 km reis deur die vasteland van Frankryk en oorsese Franse gebiede in die Karibiese Eilande, Indiese Oseaan en Stille Oseaan.

Op 26 Julie sal dit die middelpunt vorm van die openingseremonie van die Olimpiese Spele in Parys.

Die seremonie word beplan op die Seine, die eerste keer dat dit nie in die Spele se hoofstadion gehou sal word nie.

Die Franse president, Emmanuel Macron, het Maandag gesê dit kan na die nasionale stadion verskuif word indien daar bekommernis oor sekuriteit ontstaan.

Macron het gesê in plaas daarvan dat spanne op die Seine met skuite afvaar, kan die seremonie “beperk word tot die Trocadero-gebou” oorkant die rivier van die Eiffeltoring of “selfs na die Stade de France verskuif word”.

Die Olimpiese Spele vind plaas vanaf Vrydag 26 Julie tot Sondag 11 Augustus.

OFM Nuus  mvhcg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.