On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Local News

TUT sluit kampusse weens betogings

───   14:57 Sat, 20 Sep 2014

TUT sluit kampusse weens betogings | News Article

Pretoria - Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) het Saterdag al sy kampusse met onmiddellike effek gesluit weens gewelddadige betogings deur studente.

“In belang van hul eie veiligheid, word alle studente aangeraai om teen 17:00 vandag die koshuise en kampusse te verlaat,” het Willa de Ruyter, woordvoerder van die universiteit, in 'n verklaring gesê.

De Ruyter het gesê dié besluit is geneem na aanleiding van Vrydagaand se voorval waar studente by TUT se Soshanguve-kampus minstens 18 van die universiteit se motors aan die brand gesteek het.

Khensani Magoai, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê die polisie ondersoek sake van kwaadwillige saakbeskadiging en openbare geweld.

De Ruyter het gesê die universiteit se bestuur het besluit om die kampusse te sluit weens die gewelddadige protesaksies by die Soshanguve- en Ga Rankuwa-kampusse. Volgens De Ruyter is daar groot skade aan universiteitseiendom aangerig en was studente se lewens in gevaar.

De Ruyter het gesê die universiteit het ook besluit om die amptelike vakansietydperk te vervroeg na 22 September. Die universiteit se bestuur sal in dié tyd met studenteleiers vergader.

Mbnoniseni Dladla, president van die studenteraad, het gesê hulle verstaan nie hoekom al die kampusse gesluit word en nie net die Soshanguve-kampus waar geweld voorgekom het nie.

Talle van TUT se kampusse is reeds verskeie kere gesluit weens die gewelddadige betogings. Die universiteit se studenteraad is ook vroeër geskors maar die skorsing is later ná gesprekke met bestuur opgehef.

Daar is op 17 September ooreengekom dat die betogings beëindig sal word en dat klasse sal hervat. Die studente betoog glo oor 'n gebrek aan fondse in die nasionale studentehulpskema NSFAS.
 
Sapa 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.