On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

National

Renostersindikaat-leier in hof vasgetrek

───   08:14 Sat, 20 Sep 2014

Renostersindikaat-leier in hof vasgetrek | News Article

Pretoria - Die Valke het Vrydag tien mense in vier verskillende provinsies in hegtenis geneem in verband met renosterstropery en verwante misdade.

Volgens Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, is die beweerde meesterbrein van die sindikaat Vrydagoggend in die Pretoria-Noord-landdroshof in hegtenis geneem. Hy het op 'n afsonderlike aanklag van renosterstropery in die hof verskyn.

Ramaloko het gesê die nege ander verdagtes is in Ficksburg in die Vrystaat, Potchefstroom in Noordwes, Polokwane in Limpopo en in Montana, Mamelodi en Kameeldrift in Gauteng in hegtenis geneem.

Die verdagtes word daarvan beskuldig dat hulle betrokke was by die stroop van 22 renosters tussen 2008 en 2012. “Die sindikaat het glo 84 renosterhorings bekom en 22 renosters doodgemaak ter waarde van nagenoeg R22 miljoen,” het Ramaloko gesê

Die verdagtes sal Maandag in die Hatfield-landdroshof verskyn op aanklagte van diefstal, bedrog, kwaadwillige saakbeskadiging, geldwassery, intimidasie en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die departemente van omgewingsake en binnelandse sake, polisiespeurders, misdaadintelligensie, die forensiese wetenskap-laboratorium, die Nasionale Vervolgingsgesag, die Suid-Afrikaanse raad vir veeartsenykunde en Protea Coin was by die operasie betrokke.

Sapa

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.