On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

National

MRK gedreig oor ondersoek na uitlatings van Zoeloe-koning

───   08:16 Mon, 27 Apr 2015

MRK gedreig oor ondersoek na uitlatings van Zoeloe-koning | News Article

Durban - Veiligheid moes dringend by die Durban-kantore van die Mensregtekommissie (MRK) opgeskerp word nadat 'n reeks gewelddadige dreigemente ontvang is.

City Press het berig anonieme persone het gedreig om die kantoor af te brand indien die kommissie voortgaan met sy ondersoek na opmerkings van die Zoeloe-koning, Goodwill Zwelithini, in sy toespraak verlede maand in Pongola, KwaZulu-Natal.
 
Zwelithini word daarvoor blameer dat hy die xenofobiese geweld begin het toe hy aan ondersteuners gesê het dat buitelanders hul tasse moet pak en gaan. Hy het ontken dat hy dit gesê het en het die skuld op 'n derde party en die media gepak vir aanhitsing van die geweld.
 
'n Bron binne die MRK het aan City Press gesê een van die dreigemente het gelui: “As julle nie dadelik ophou met jul ondersoek van die koning nie, sal julle kantoor aan die brand gesteek word met julle binne-in.” Nog 'n dreigement het beweer MRK-personeel word dopgehou.
 
Isaac Mangena, woordvoerder van die MRK, het bevestig dat die kommissie verskeie dreigbriewe en -oproepe ontvang het rakende die ondersoek na Zwelithini. Hy het gesê die kommissie is bekommerd oor die dreigemente omdat baie van die MRK-personeellede in die gemeenskappe werk waar die oproepe en briewe vandaan kom. Hy wou nie spesifiseer uit watter areas die dreigemente ontvang is nie.
 
“Die kommissie gaan voort met sy ondersoek en sal 'n verslag aan die einde van die ondersoek uitreik,” het hy gesê.
 
Volgens Mangena word die dreigemente geanaliseer om te sien of dit enige gevaar vir die kommissie en sy personeel inhou.
 
Hy het verder gesê die kommissie glo Zwelithini speel nie 'n rol in die dreigemente nie en die koning se kantoor gee hul volle samewerking met die MRK se ondersoek.
 
-News24.com

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.