On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Yellow Door

Slaap, jou wonder soete ding.

───   DANE BEISHEIM 15:05 Thu, 20 Feb 2014

Slaap, jou wonder soete ding. | News Article

Dane Beisheim deel met ons op 'n humoristiese wyse die metamorfose waardeur sy slaappatrone vanaf 'n vyfjarige ouderdom tot nou verander het. Ook wat gebeur as die gevestigde en geliefde volwasse slaappatroon deur die geraas van 'n hamer en boor versteur word.


Ek hou van slaap. Dit is een van my lekkerste tydverdrywe in die hele wêreld! Toe ek ’n tjokker was, het ek glad nie van die middagslapies wat my ma en kleuterskoolonderwyseresse my laat neem het, gehou nie. Dit was loutere hel vir vyfjarige Dane’tjie om stil te moet lê wanneer daar soveel slakke was om teen mekaar te laat resies jaag, drake om te teken en strokiesprente op TV om na te kyk.

Dinge het egter verander toe ek op universiteit land. Ewe skielik was ’n stewige middagslapie net die ding om my deur ‘n vol dag te kry. Tussen klasdraf, sosialiseer en tyd iewers inruim vir persoonlike verhoudings, was ‘n middagslapie die beste medisyne vir ’n moeë student soos ek. En nou is ook dit iets van die verlede, want wanneer jy voltyds werk is daar nie meer tyd vir middagslapies nie.

Jy kan natuurlik altyd in jou etensuur ’n vinnige slapie inwerk.  Ongelukkig is eet hoër op my lysie van prioriteite as slaap. ’n Mens se etensuur word dikwels ook ingespan vir al die ander draaie wat jy moet loop en andersins nie tyd voor kry nie. Soos bank toe gaan vir ’n oorbetaling, of in die munisipale kantore te gaan toustaan omdat daar iets skort met die lesing van jou elektrisiteitmeter. Tot en met wanneer toekomstige wetenskaplikes ’n manier ontwerp waarvolgens jy kan eet en terselfdertyd slaap (’n binneaarse drup tel nie), sal die algemene Suid-Afrikaanse werknemer se etensuur ongelukkig nooit vir albei praktyke ingespan kan word nie.

So, my agterstallige slaap word deesdae noodgedwonge oor naweke ingehaal. Die naweek is waarheen slaaptyd gerelegeer word wanneer jy besig raak met belangriker dinge as slakke-resies hou. Dit is  kosbare tyd waarvoor ek selfs my lewe sal gee. Rêrig, êrig. Om laat te kan slaap op Saterdagoggende is ’n spesiale gewyde tyd vir my en talle ander gewone salaristrekkers soos ek. Vandaar my hewige ontsteltenis toe ek nou die dag belaglik vroeg uit my droomstaat geruk is deur die haatlike klanke van ’n elektriese boor en hamer wat kap en kap.

“Wat ’n ##** onbedagsame ding om so vroeg in ‘n naweek te doen wanneer ander mense probeer slaap!” dink ek by myself waar ek briesend kwaad in my bed lê. “As ek nie so moeg was nie, sou ek nou dadelik opspring om my buurman duidelik te laat verstaan dat sy vroegoggend-mannewales my nie aanstaan nie.” Later dieselfde dag neem ek my vullissakke uit en loop die einste buurman op die stoep van ons woonstelblok raak.

Hy was krampagtig aan’t suie aan ‘n sigaret. Ek groet hom beleefd. Ek wou nie dadelik met die sak patats vorendag kom en sy geraas ophaal nie, so ek vra toe eerder eers hoe dit met hom gaan. My idee was dat ek sou wag tot hy begin vertel van sy nuutste selfdoen-projek, waarná ek terloops sou noem dat ek hom inderdaad VROEG vanoggend gehoor werskaf het. Hy sou dan om verskoning vra vir die lawaai en my Saterdag sou in die toekoms nie weer prematuur afskop nie. Dit is ten minste hoe ek gehoop het die gesprek sou verloop.

Instede daarvan vertel hy my dat sy vrou in die hospitaal is. Sy is agt maande swanger het hulle eerste kind. ’n Seuntjie. Daar is komplikasies. Ek vra nie te veel uit nie, want hy lyk hartseer. En ek dink toe, "Weet jy wat buurman, boor en gaan groot. Jy het duidelik meer probleme as ek. As spykers inkap en timmer jou beter laat voel of jou stress laat ontlaai, dan wil ek met alles binne my hê jy moet dit doen. Vroeg wakker word gaan my nie enige skade berokken nie."

Ek probeer hom na die beste van my vermoë oortuig dat alles oraait sal wees, maar ek weet nie hoe nie. Ek skud sy blad om hom geluk te wens met die nuweling. Net voordat ek my deur bereik draai ek vinnig om en sê, “Hoorieso man, as ek ooit in die toekoms raas wanneer julle probeer slaap, kom klop my net op en sê ek moet sagter wees. Jy en jou vrou gaan julle slaap nodig hê wanneer daai seun van julle huis toe kom!”

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.