On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Yellow Door

’n Strooimeisie se wraak

───   TANYA VAN BUUREN 15:38 Fri, 07 Mar 2014

’n Strooimeisie se wraak | News Article

’n Alleenlopende meisie wat by haar vriendinne se troues besef sy is altyd die strooimeisie en nooit die bruid nie, beplan soete wraak op haar geliefde vriendinne. Tanya van Buuren vertel in 'n humoristies wyse van haar wraakplan.

 Dit is met groot blydskap wat ek uiteindelik kan aankondig dat die oorweldigende meerderheid van my vriendinne getroud is. Met 15 troues in twee jaar agter die rug, waarby ek op ses van hulle (die enigste enkellopende) strooimeisie was en ván Kwazulu-Natal tot Snor City moes reis, gun ek nou vir myself ’n welverdiende blaaskans vóór almal se tweede huwelike in volle swang aanbreek.

Nou kyk, my vriendinne is my hart se punt en ek sal (en hét) tot die uithoeke van die aarde reis om in hul vreugdes te deel, maar die laaste twee jaar was darem net té erg. ’n Meisie wat nie iemand het om snags mee lepel te lê nie, kan haarself net sóveel keer in ’n rokkie dwing wat twee sizes te klein is, teleurgesteld verneem dat die bruidegom se broer gelukkig getroud is en met ’n stywe, verbitterde glimlag deel in (ander) mense se geluk. (Voeg in: trossie suur druiwe).

Hoe genotvol dit ookal mag wees om jouself aan die onthaal se open bar te vergryp, is dit eenvoudig net té hartverskeurend om keer op keer al die tannies se simpatieke ‘’she’s always the bridesmaid, but never the bride’’ kyke te aanskou of wanneer jy besef jou enigste date vir die aand was die ou ballie met die brannewynasem met wie jy op ‘’Gangam Style’’ gelangarm het.
Aan elke vriendin by wie se troue ek al in my lewe was (julle weet wie julle is) rig ek dus nou ’n waarskuwing: Jy sál bridesmaid by my (eerste) troue wees en van jou sal daar verwag word om dit die mees onvergeetlike spektakel onder die son te maak. Ek word broeis. En ek het ’n boyfriend. Payback kom dalk vinniger as wat julle dink!

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.