On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Yellow Door

Mense met ADHD is spesiaal

───   ANSJA FERREIRA 14:32 Mon, 19 May 2014

Mense met  ADHD is spesiaal | News Article

Ansja Ferreira vertel van haar twee kinders wat aandagafleibaar is en gee raad oor wat ouers te doen staan as hulle in dieselfde bootjie is. Ansja het gou besef kinders met ADHD is nie stout kinders wat te veel lekkergoed of gekleurde koeldrank drink nie.

Geen vervelige oomblik… wanneer jy die ma van twee hiperaktiewe- en ADHD- kinders is (Deel 1)
 
Ek glo dat kinders en grootmense met ADHD/hiperaktiwiteit spesiaal is, soos sterre wat heeltyd blink en sprankel. Met die regte hulp en ondersteuning kan hulle ook sterre in die wêreld word wat uitblink in sport, vermaak, sang, fotografie, kuns en al wat beroep is wat ‘n hoë vlak van energie en sprankeling verg. Soos alles in die wêreld, moet mens dit vir jou laat werk, of jy kan jou laat onderkry. Dit is jou keuse. Ek het ook al opgelet dat baie van die ADHD/hiperaktiewes in ons wêreld uiterse kreatiewe, interessante en besondere mense is. Die volgende bekendes is almal ADHD en/of hiperaktief en het hulle nie daardeur laat onderkry nie en dit vir hulle laat werk : sanger Justin Timberlake, chef Jamie Oliver, akteurs Will Smith en Jim Carrey, sir Richard Branson, Paris Hilton en die voormalige Olimpiese atleet Bruce Jenner.
 
Volgens navorsing kom aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit in sekere families voor en het sowat 25% van biologiese ouers dit ook. Ek was nog altyd een van die mense wat baie skepties is oor dinge soos ADHD en hiperaktiwiteit. Ek was altyd van mening dat sulke kinders te veel lekkers eet en gekleurde koeldrank drink en dat dit net ‘n modewoord of ‘n nuwe gier is. My eerlike opinie was dat hierdie kinders net vrek stout was en die ouers nie die kinders genoeg dissiplineer nie.
 
Totdat ek dit self ondervind het met twee van my eie kinders. Ek het self twee kinders met ADHD en hiperaktiwiteit en het ‘n lang pad met hulle geloop en verstaan nou presies waaroor dit gaan. Ek sal nou aan enigeen kan verduidelik wat dit is en hoe dit werk en dat dit werklik bestaan. My oudste seun is nou 19 en ‘n eerstejaarstudent aan die Universiteit van die Vrystaat. My oudste dogtertjie is 9 jaar oud en in graad 3. Hulle is albei ekstroverte en baie lief vir maats en kuier. My ander twee kinders is weer introverte, stil, rustig en gelukkig by die huis. My dogtertjie se kleuterskoolskoolhoof het my destyds ingeroep en gevra dat ek haar gehoor laat toets, want sy vermoed die kind is doof. “Dit lyk nie asof sy my hoor nie,” het sy gesê. Ek het haar ore ten duurste laat toets en hulle kon absoluut niks fout vind nie.
 
Sy was ‘n ontsettende besige baba en ek kon nie met haar na enige restaurant of openbare plek gaan nie. Sy het altyd die plek op horings geneem. Op die strand het sy vir my weggehardloop. Sy kon nooit stilsit nie en ek kon nooit meer net in die son lê en ontspan nie. Sy het eenkeer reguit in die see ingehardloop toe ons met vakansie was in Margate (sy was 2 jaar) en my man moes met sy skoene en klere aan haar gaan uithaal So impulsief was sy. Toe sy twee jaar oud was, was ek brandmaer van al gehardloop agter haar aan. Die ouer broers en susters was ook moeg agter haar aangehardloop. Ek het vermoed dat iets verkeerd was, maar my ma het vir my gesê ek was ook so as baba en kleuter, en selfs erger as my dogtertjie. Ek het glo op tafels geklim en gedans toe ek klein was, volgens my ma. Sy is net lewendig en ‘n bol vreugde, het baie mense vir my gesê.
 
Dit was bykans onmoontlik om met haar by mense te gaan kuier en braai en ook mense na ons toe te nooi, sy was net te lewendig en veeleisend en mense het dikwels snedige aanmerkings oor haar gemaak, soos “Ek kry julle jammer met so ‘n kind”, of “Jou kind kort net ‘n goeie pak slae”. So ons het maar meestal ons eie ding gedoen en min met ander mense gekuier. Toe sy in graad 1 kom, het ‘n wyse onderwyseres, een met baie jare se ondervinding, gesê ons moet haar by die pediater laat toets vir ADHD. Haar punte was ondergemiddeld, maar tog was sy baie intelligent in gesprekke en in haar optrede. Sy was ook na elke partytjie by die skool genooi en ontsettend gewild, die “belle of the ball” by elke partytjie. Sy sing altyd, spring altyd rond, dans en glimlag. Sy lewe voluit en is ‘n bol energie. Die pediater het haar ondersoek en ook verslae van die onderwyseres gekry. Sy is hiperaktief en ly aan aandagafleibaarheidsindroom. Ritalin is toe vir haar voorgeskryf. Dit het haar eetlus weggeneem en die kind se persoonlikheid het baie verander. Sy was stil en baie emosioneel. Ek het die juffrou by die skool gevra om ‘n ogie oor haar te hou, want volgens die pediater sou die newe-effekte mettertyd verminder. Sy het wel haar eetlus en borrelende persoonlikheid teruggekry, maar ná ‘n jaar op Ritalin het die pille nie meer gewerk nie en was sy veel erger as wat sy ooit tevore was. Ons kon nie met haar huishou nie. ‘n Normale rit in ‘n motor was ‘n nagmerrie. Sy kon nie stilsit nie en het die hele tyd gepraat, gevra waar gaan ons heen, waar is ons nou, is ons al daar?. Dit was verskriklik moeilik vir haar om ‘n sitplekgordel aan te sit en aan te hou.
 
Terug na die pediater, wat self as kind ADHD gehad het en volgens hom vreeslik deur sy pa geslaan is omdat sy pa gedink het hy luister nie na hom nie. Sus is op ‘n nuwe middel gesit, naamlik Strattera. Vir die eerste maand moes sy in die oggend Ritalin drink en in die aand Strattera, aangesien Strattera tot 6-8 weke kan neem om te begin werk. Ná twee weke het haar onderwyseres laat weet die kind se skoolwerk begin verbeter en kon ons die Ritalin wegneem. Sy is ook rustiger, maar het hoegenaamd nie enige van haar borrelende sonnige geaardheid verloor nie. Die nuwe medikasie werk nou vir haar, sonder enige merkbare newe-effekte. Ek glo my sonskynkind gaan eendag in die vermaaklikheidsbedryf beland; sy sing en dans pragtig en is ‘n gebore aktrise. Haar een onderwyseres beskryf haar as “a free spirit”.

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.