On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Yellow Door

Pa se free range droom

───   GISELA ULLYATT 10:44 Wed, 04 Jun 2014

Pa se free range droom | News Article

Gisela Ullyatt besin oor skrophoenders, vaders en ’n paar waarhede en versinsels agter dié twee in ’n kort kortverhaal.

 Pa had ’n hoenderhok vir ’n wyle. Maar nie sommer enige hiert-jy ene nie. Toegegee, dit was ’n saamgeflansde hondehok, ja.  Maar dit was Georgie, die miniatuur-worshond, se hondehok nadat hy hônnedroomland toe begelei is deur Oom Veearts. Georgie het sy hondehok gehaat, want hy wou binne-in die huis saam met ons slaap. Dit was egter in die tagtigs en mense het hulleself meer verknies oor bomme in dromme en supermarkte as oor hulle troeteldiere met skeidingsangs. Ten minste was die hok uit planke gebou en nie uit asbes nie. Noukeurig het Pa die planke rooi geverf. 

           Pa se hoenders was van die begin af gedoentes uit die hel. Hulle was ongedurig en plein moerig. Maar as ek nou aan hierdie gediertes dink, het hulle goeie rede daartoe gehad: acting out. Eerstens was hulle opgekrop in hul hondehok binne ’n minuskule ogiesdraadkampie. Hiervoor was ook ’n rede: wanneer hulle losvoetig was, het hulle almaardeur die gat in die sementheining gedôner. Pa het plankies en bakstene voor die heining opgestapel, maar op een of ander manier het hulle hulself elke keer deur die kleinste gaatjie gaan staan en wriemel. Reguit in die kake van Frommel, die bure se bulldog. Pa móés hulle dus intronk. Ook is ’n kuiken deur ’n valkie weggeraap en ons was gedurig in kinderlike rou gedompel. Begrafnisse het die jaart in littekens begin merk. Onvoorwaardelike free range hoenders was hulle toe nooit nie; maar hulle hoenderlewens was darem aansienlik beter as dié van rainbow chickens.

           Boonop het die haantjie klokslag om vier uur begin kraai. Oggendstond het miskien goud in die mond, maar beslis nie in die moeë oor wat nie wil hoor nie. Ma kyf toe so oor die kakofonie dat Pa genoop word om ’n kartondoos oor die haan se kop te prakseer. Ek dink dit het darem luggaatjies gehad. Ek het obsessioneel aan die haan se lot begin dink en hom by my aandgebed begin insluit.

           Maar al wat stilbly was haantjie. Steeds kon jy ta se gekraai hoor. Effens meer gesmoor, natuurlik. Maar steeds om vier, klokslag.

           Pa het die hennetjies se eiers gebraai. Free range eiers voordat free range ’n Woolies trefwoord geword het. Ongelukkig was daardie eiers met gommerige hoenderstront en vere besmeer en so pieperig-klein, jy het ’n halwe honderd benodig voordat jy behoorlik ’n omelet kon gaarmaak. Vergeet dus maar van pofomelette met daardie tipe eiertjies. Nooit weer wou ek my mond aan enigiets sit wat in daardie pan gebraai is nie. Oor die walglikheid van Pa se free range-feeste. Ek het myself in my kamer toegemaak en onder die duvet geklim. Ek het baie toiletsprei gebruik in daardie jare.

           Ek kon nooit Pa se benepenheid met hoenders verstaan nie.  Totdat ek van die leghorn-storie gehoor het.
           Alewig het Pa se messelaar-vader huise opgefieks en hulle dan verkoop. Nooit rêrig ’n wins uit hulle gemaak nie. Die versoeking was dus groot om stringe huise binne ’n rekord-tyd te verkoop. Daardie jare was meeste erwe kolossaal en mense het hoenders, ganse of eende aangehou.

           My pa het ’n paar leghorns gehad wat hy soos pasgebore baba’s vertroetel het. Elke nuweling is gedoop en daar was selfs ’n appelkissie waarop hy vir hulle uit die Kinderbybel Skriflesing en Kerkdiens gehou het. Die lidmaatskap het mooi uitgebrei en het later selfs uit sy teddiebeer en broers bestaan.
           Maar toe raak dit weer tyd vir Die Groot Trek.

           Dit was die middag van sy verjaarsdag en baie stil toe hy die huis binnekom. Nog in sy skooluniform, gooi hy sy tas op die bed neer in die kamer wat hy met sy ouma moet deel. Hy is agt jaar oud. Hy wonder waar almal is. Dan hoor hy stemme in die agterjaart. Kinderstemme. Sy hart bons. Uiteindelik, ’n regte partytjie. Nog nooit ene gehad nie, sy ma het gesê dat in oorlogstye die geld te skraps was vir ’n behoorlike geskenk, wat nog van ’n onnodige paartie waar almal in elk geval al jou harde werk in die kombuis binne minute kom opvreet soos varke. En van varke-voer het sy genoeg gehad op die plaas waar sy deur haar bejaarde ouers soos ’n slavin behandel is. Nee, varke dié sal sy nimmer weer voer nie.

           Opgewonde maak hy die agterdeur oop. Dis die buurtkinders. Hulle is almal by die leghorns se hok. Bedags loop hulle vry, dis net snags wat hy hulle tot in die hok in sus met mieliepitte.

           En dan sien hy dit en eers wil sy kop nie verstaan nie. Sekerlik is dit ’n verrassingspartytjie en iewers, dalk onder een van die vrugtebome, het sy ma ’n tafel gedek met ’n uitgerysde koek met dik botterversiersel. En tuisgemaakte limonade, met baie suiker en ’n suurderige smaak. En kleinkoekies. En dan sal sy geskenke wat die maats gebring het, iewers op die tafel gerangskik wees, elk met ’n mooi kaartjie daarby. Hy hou só van mooi kaartjies.
           Maar sy benoude oge sien geen tafel nie. Net Koekie van langsaan met haar snaakse slaphand, die Terblans-tweeling wat verder-af die straat bly en ’n swetterjoel ander wat hy nie so goed ken nie.

           Elk het ’n leghorn wat hulle opgewonde vashou.
Sy ma het ’n geldsakkie in haar hand. Toe verstaan sy hart.
           “Jou hoenners was nog altyd net ’n oorlas. En jy weet mos voor jou siel ons kan nie met die goed trek nie!”
           Daardie laatmiddag het hy in die hok gaan lê. Hy het die reuk van vere diep ingeadem. Sy ouma het mooi gepraat dat hy nie gedôner moes word oor sy strontbesmette skoolklere nie. Ten spyte daarvan het hy die pak van sy lewe gekry. Maar hy het nie omgegee nie. Want eendag, só het hy homself belowe, sou hy ’n gerfie grond met hoenders daarop kry en die eiers vir sy eie kinders gaarmaak.

           En dalk, net dalk sou hy geld bymekaarskraap om vir hulle ’n paartie of twee te kan hou. 
           

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.