On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Yellow Door

Glamorous

───   ANNA VISSER 11:30 Wed, 20 Aug 2014

Glamorous | News Article

Anna Visser, 'n OFM omroeper wat saam André Kunz The Breakfast Special aanbied, deel van haar openbare voordragwerk. Hier is die voordragstuk wat so bietjie van haar kinderlewe openbaar. Sy het dit voorgedra tydens die Yellow Door Opens geleentheid op 13 Augustus in Bloemfontein.


My ouma Anna het altyd gesê my heel eerste woord was ‘ydel.’ Dis ‘n blatante leuen. My eerste woord was ‘mamma’ soos meeste ander gemiddelde intelligente Afrikaanse dogtertjies s’n.
 
Maar tog is daar ‘n bietjie waarheid in ouma Anna se grappie. Ek kan tot vandag toe nie verby ‘n spieël, of selfs ‘n winkelvenster, stap sonder om net doodseker te maak ek is in hom nie. Vandat ek ‘n klein dogtertjie was, het ek net een groot wens in die lewe gehad, en dis dat mense hard en aanhoudend vir my sou hande klap... sommer net omdat ek asemhaal. Ek wou maar net een ding wees- glamorous!
Ek onthou nog, my ouma Anna het My Fair Lady vir my ge-tape toe dit op TV1 verskyn...my fair lady is nou nog my gunsteling fliek in die hele wêreld!
Eliza, wat van haar klein begin as ‘n blommeverkopertjie op straat, deur harde werk en vasbyt ‘n regte lady word. En dan natuurlik Henry Higgins wat haar net so mooi leer praat soos die queen...en haar aansienlik beter aantrek! Glamorous! Ongelukkig was ek tot op ouderdom tien redelik verward oor hoe die film eindig. Ouma Anna het per ongeluk Days of our lives oor die einde ge-tape so ek was altyd onder die indruk Eliza los vir Higgens en gaan bly by sy ma, en dan is ons skielik nie meer in London in 1912 nie maar wel in Saylem, Amerika 1992... en daar ontvoer Stefano vir Marlena en brainwash haar om met hom liefde te maak want sy dink Roman is dood, en dan eindig die film op ‘n hoë noot met ‘n halwe Omo-advertensie.
Elke dag na skool het ek voor die TV gestaan en vir Eliza Doolittle nagemaak soos sy haar spraakoefeninge doen en ek het ouma Anna se gehekelde tafeldoeke en die grand wit handdoeke en soms die kantgordyne om my lyf gedraai om vir my Eliza rokke te maak vir wanneer ek ‘I could have danced all night’ sing. So, sodat my ouma Anna Howell later vir my ‘n rok uit daai kantgordyne aanmekaar geslaan het, laat ek tog net die ballroom scene in kostuum kon aanpak.
Ja, Dit was maar van kleins af my droom. Glamourous! Nes Eliza in haar wit balrok. En dan kan ek na die bal ook vir Higgins so sleg sê soos iemand se skoonma, hom met my jewellery gooi en op die mat neerval en vreeslik grens! Glamorous! Dis toe al wat ek besluit het om ‘n AKTRISE te word.

En so ook, het my beste pel, Maryke Smuts, besluit om een te word. Ai shame tog! Maryke het ALLES gedoen wat ek gedoen het. Ek neem balletklas, Maryke sleep soos ‘n skaduwee wat aan my hakskene vasgewerk is saam my. Ek speel in die badkamer met my ma se toiletries en skeer my wenkbrou per ongeluk af, Maryke dink dis ‘n bakgatplan. Ek kon nie eers ‘n wind los sonder dat Maryke dit saggies eggo nie. Ag, ek was haar beste vriend, ou Maryke, haar enigste vriend. Sy was bietjie skeel en het soms soos piepie geruik. Maar ons was inseparable...
 
Dis ek wat vir Maryke opgestaan het as daai bliksemse Cindy Vonskepushky en die vier pony tails wat haar soos ‘n sanggroepie gevolg het haar dik bril wou vat. Maar laat ek jou ook eers vertel van Cindy Vonskepunshky. Cindy Vonskepushky was baie lelik...maar net aan die binnekant, so niemand behalwe ek en Maryke het agtergekom nie. Sy was amper so populêr soos spice girl skoene. En sy was bietjie eksoties. Dis omdat haar pa ‘n Russiese politikus of ‘n sirkusapie of iets fantasties was. Sy’t bietjie soos Disney se Pochahontas gekruis met die feëkoningin in Liewe Heksie gelyk... Glad nie soos ‘n Shetland pony nie. Al het ek en Maryke Smuts vir mekaar so gesê, om beter te voel terwyl ons haar brille soek in die meisiesbadkamer. Cindy was ‘n klein bitch maar ek en Maryke was soos boude!
 
Tot daar een verskriklike dag, ‘n kloof tussen ons oopgeskeur het, groter as Liefling, die movie, of Kurt Darren by die Skouspel... Dit was die standard kunswedstryd...waaraan Maryke natuurlik ook deelgeneem het. Ek het Rietfontein se Leidam voorgedra... Maryke het daai besigheid van Antjie Krog met die skilfers en die kers wat flikker gedoen...wel, sy’t probeer... Maryke wat maar ‘n B gekry het, moes toe maar haar aktrise- drome laat gaan... Ek’t weggestap met ‘n A-dubbel-plus... Sy’t my nooit vergewe nie. Ek was okay, een of twee van die oukies het my gelaaik, en ek het ander maatjies gehad, en ‘n A-dubbel-plus. Dis Maryke wat maar pouses alleen moes sit en haar fishpaste-broodjie middeldeur kyk vir geselskap.
 
Maar toe kom Standard 5 se Desembervakansie, ek en Maryke, en 2 van die pony tails en Cindy sou almal na die Engelse hoërskool Eunice toe gepos word vir ons refined “Disprin-tussen-die-kniee-knyp” secondary education. Ons ma’s het dit mos al toe ons in Sub B was besluit. Na daai 3 weke by die see het niemand eers meer gesien haar oë is so skeef soos Nataniël nie, want sy’t by Krismis Vader boobs gekry het en bene gegroei wat tot hier (wys onder ken) kom! My bene kom net tot (wys) hier en my boobs kom so in installments... dis lastig, ek’t verlede week ‘n wet T-shirt contest gedoen en is toe op die ou end gediskwalifiseer want ek het eerste en derde gekom...
 
Standerd 6 was die jaar van naamsveranderinge ....Elke Voortrekkerstraat in die land het Nelson Mandelaweg geword, en Cindy Vonskepunshky was nou Cindy Botha... want die oor, neus en keelspesialis het die verkeerde dele van haar ma ondersoek en toe moet hulle bitter vinnig trou. Maryke Smuts, wie nou skielik kontaklense gedra het, mooier was as ek, en deodorant ontdek het, het haarself nou in die English skool bekendgestel as “Maraaika Smats”, en boonop was sy nou skielik Cindy wat altyd haar bril weggedonner het- se nuwe beste pel!!! DIT kon ek haaaar nou nie vergewe nie. So toe praat ons vir ons totale hoërskoolloopbane nie ‘n woord met mekaar nie en vry net af en toe ‘n boyfriend af.
 
Na skool het sy in Potch gaan sekretarieel swot en ek het toe aktrise-wees gaan doen op Kovsies. Ek weet nie wat Cindy gedoen het nie. Sy’t in elkgeval teen Standard 9 alweer ‘n nuwe van gehad- ek kan nie onthou wat dit is nie, anders het ons haar NOU ge- Facebook stalk om uit te vind!
 
Ek’t haar ander dag gesien by die Spar. Maraaika. Sy was in die dorp vir haar sussie se baby se doop of so iets. Dit was awkward! Lyk sleeeg. Maaaaer.En sy’t nie meer haar Standard 5 Desembervakansie boobs nie. Sy’t daai selfde soort groen as ‘n meisies Mitchum bottel geword toe sy hoor ek is nou ‘n fabulous flashy fantastic phenomenal.... freelance... aktrise, sonder ‘n kar, ‘n paycheck, of ‘n nine to five wat my soos ander voorstedelike meisies aan die platteland bind, en dat ek met famous mense rol- soos Jak de Priester- ek het hom een keer, gedurende die Volksblad kunstefees, 4 uur in die oggend ontmoet het by ‘n kuierplek- hy gesê het ek’s mooi... toe’t hy amper op my opgegooi en nie weer met my gepraat nie. Ja, sy lyk sleg ou Maryke! Maaaeeeer. Sy sê my toe sy’t opgeskop op varsity en maar gaan trou.... ook met ‘n oor, neus en "dingisis" spesialis soos Cindy se ma destyds. Hy’t ‘n boot. Maar dis net ‘n kleintjie...daar’s ‘n kombuis in...maar dis net ‘n kleintjie.... Ek wonder of sy hom in die aand na die ball soos Eliza Doolitlle met haar juwele gooi...glamorous.

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.