On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Yellow Door

Stille Skaduwee

───   ILSE SMALBERGER 10:05 Fri, 26 Sep 2014

Stille Skaduwee | News Article

Dis altyd daar, soos 'n skaduwee wat jy net-net uit die hoek van jou oog kan sien en Ilse Smalberger weet nie of sy ooit weer daarvan ontslae sal wees nie.


Laat ek heel eerste begin deur te sê ek het nie kanker nie. Dank die Vader. Ek kan nie eers in woorde omsit hoeveel simpatie ek met die mense, en die familie van die mense het, wat deur die seer en die sleg en die pyn en die hartseer van kanker moet gaan nie. Ek kan nie begin om te verstaan wat deur 'n mens se kop en hart gaan wanneer jy die woorde "jy het kanker" hoor nie. Wat ek egter wel met hierdie blog wil bereik, is om 'n klein bietjie van my ervaring van hierdie siekte te deel.
 
Kom ons neem 'n ver sprong terug in die verlede. In my familie, was kanker nooit 'n wrede, vreesaanjaende werklikheid nie. Oupas, oumas, ooms en tannies is dood aan goed soos harte en ouderdom. Meestal, nie almal nie. Maar oor die algemeen kom ek van "old stock" - ons lewe vir 'n laaaaaaang tyd. Aan albei kante. Of so het ek gedink.
'n Kleiner stappie terug. Ek ontmoet die man aan wie ek my hart belowe het tien jaar gelede. Hy is op daardie stadium 'n dokter wat pas begin spesialiseer het in Onkologie. Watter spesialiteit is dit? vra ek op ons eerste afspraak. Kanker, sê hy, maar al wat ek sien is sy pragtige oë en al wat ek hoor is sy stories oor lande wat hy besoek het, boeke wat hy gelees het, mense wat hy ontmoet het.
 
Toe kry my ma kanker. Dit het haar liggaam betree, ongenooid, en haar van binne vernietig. Eintlik nogal vinnig. Die dag wat my ma gesterf het, is ook die dag waarop my man sy finale eksamen deurgekom het. Ek glo sy het gewag tot hy klaar was. Tot hy gereed was om die stryd voort te sit. Dit was ses jaar gelede. Hoe vinnig gaan die tyd nie verby nie.
 
Met die ontmoet van my man en die dood van my ma het kanker homself 'n deel van my lewe gemaak. Dit is 'n stille skaduwee, wat my elke dag agtervolg. En ek bedoel dit nie op 'n dramatiese, trane-trekkerige manier nie. Nee wat, niks so verromantiseerbaar soos dit nie.
 
Saans wag ek, soms tot laat, met kos wat lankal op die stoof koud geword het vir 'n man wat langs hospitaalbeddens vir families moet verduidelik oor die pad vorentoe, of nog erger, wat vorm op vorm op vorm moet invul vir verskeringsmaatskappye, werkgewers, mediese fondse.
 
As hy tuiskom vertel my moeë man van besondere moeilike gevalle wat hy daardie dag gesien het, mense wat hy weet se tyd in maande eerder as jare getel kan word. Jong mense, ou mense, mans, vroue, hier en daar 'n tiener (dankie tog, my man behandel nie kinders met kanker nie; dis waarvoor die Pediatriese Onkoloë - God bless them - daar is). Kanker steur hom nie aan geslag, ras, ouderdom sosiale status of vlak van intelligensie nie. Dis so ondiskriminerend mens kan naar word daarvan.
 
Bedags tik ek briewe met mediese geskiedenis en behandelingsplanne vir huisdokters en spesialiste wat kankerpasiënte na my man verwys het. Soms sidder ek - selfs ek met geen mediese agtergrond nie kan lees as iemand SIEK is. Een keer 'n maand doen ek die pasiëntadministrasie vir die Onkologie-kliniek in Upington. Ek leer pasiënte ken, ek leer hulle families ken. Partykeer as my man by die huis kom, sal hy opmerk terwyl hy kamer toe stap om sy werksklere uit te trek "O ja, mev. So-en-So van Olifantshoek is vandag oorlede". En dan dink ek aan haar en haar man, of kinders en my hart breek, daar waar ek slaai opskep of nog 'n glas wyn skink.
 
Kanker is oral om my. Oral is mense wat teen die siekte veg, of wat alles gee - hulle tyd, hulle geld, hulle hulp, hulle kennis - om dit te probeer bestry of dié, wat daarmee worstel, te help. Ek kan nie daarvan wegkom nie, al probeer ek hoe hard. As gevolg van "familiegeskiedenis" is ek en my sussie vanjaar albei deur 'n paar toetse, wat alles behalwe pret was, as 'n vroeë voorsorgmaatreël.
 
Intussen het ek al baie geleer oor kanker. Sommer so per ongeluk, in 'n artikel wat jy raakblaai, 'n gesprek hier en daar, ietsie wat jy op TV raaksien. Omdat kanker maar altyd 'n stille skaduwee in die agtergrond van my lewe is, hoor ek waarskynlik meer dinge raak, wat andersins by die een oor in en die ander een uit sou gegaan het.
 
Ek het geleer dat dit ALTYD beter is om vroeër eerder as later uit te vind. En dis hoekom die aaklige toetse en ondersoeke ook 'n noodsaaklikheid is. Ek het geleer dat hare nooit belangriker as die lewe is nie. Laat ek verduidelik. Toe ons nog in die uitgaan-stadium was, het ek en die Eggenoot gepraat oor kankerbehandeling en chemoterapie. Ek het gesê hoe verskriklik dit vir 'n vrou moet wees om haar hare te verloor. Hy het gesê, hare is 'n bysaak. Die lewe is belangriker. Ek het gedink hy is darem baie onsensitief en verstaan nie hoe belangrik 'n vrou se kroon vir haar is nie.
Fast forward 'n paar jaar en bietjie meer lewenservaring later. Ek het vroue hulle hare sien verloor. Baie van hulle. Elkeen van hulle sal met liefde weer elke haar opoffer as dit kan beteken hulle word nie voortydig van hulle mans, kinders, kleinkinders, broers, susters, goeie vriende en vriendinne en familie weggeneem nie. En ek sal elkeen van my eie hare opoffer as ek my ma vir nog 'n paar jaar kon hê.
 
Ek het geleer dat 'n mens se HOUDING 'n ongelooflike belangrike faktor in jou behandeling is. Ek het al pasiënte gesien wat klaar die stryd verloor het nog voordat hulle 'n sekonde se behandeling gehad het - net omdat hulle nie kans gesien het om teen die siekte te stry nie. Ek het ook ander pasiënte gesien, wat elke dag met 'n positiewe gesindheid aanpak, wat verby hulle eie pyn en slegvoel kyk om steeds te sien waar hulle in ander se lewens 'n verskil kan maak. En alhoewel selfs hierdie pasiënte soms die stryd verloor, laat hulle so 'n positiewe prentjie by jou agter dat hulle selfs lank na hulle dood nog 'n verskil in mense se lewens maak.
 
Die skaduwee is daar, maar ja, as ek van hom af wegkyk, is daar lig. Oorvloedige lig. En daarvoor is ek diep dankbaar.

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.