On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Elsje Neethling se lewe gaan kleurryk gevier word

───   14:58 Mon, 08 Jan 2024

 Elsje Neethling se lewe gaan kleurryk gevier word | News Article
Elsje Neethling se lewenslus het só baie mense geïnspireer. Foto: Facebook

“Ons het twee lewens en die tweede begin wanneer jy besef jy het net een.”– Elsje Neethling, Facebook

Die lewe van Elsje Neethling (43) word Vrydag tydens ’n gedenkdiens in die Paarl gevier.

Elsje, die suster van die Olimpiese swemmer Ryk Neethling, is op 23 Desember oorlede nadat sy langer as 30 jaar ’n stryd teen kanker gevoer het.

’n Aankondiging oor haar gedenkdiens is wyd op sosiale media versprei waarin gesê word die viering van Elsje se “dapper en kleurryke” lewe word gehou op die Ashanti-landgoed in die Paarl. ’n YouTube-kanaal is geskep sodat mense dit elders ook kan volg. Die diens begin om 09:30 en mense word gevra om iets kleurryks en vroliks vir die geleentheid aan te trek.

Die familie het vroeër in ’n verklaring gesê Elsje was hul “eiesoortige lieflingsdogter en suster”. Sy was rustig, maar het tot die einde geveg soos net sy kon.

Huldeblyke stroom steeds in vir Elsje.

Johan Brits, ’n oudkollega by Volksblad, sê Elsje het altyd gelag. “Ons het baie goeie vriende geword. Ek sal altyd onthou hoe lief sy was vir lag. Sy het altyd die kantoor opgehelder met haar lag.”

Elsje was 13 jaar oud toe breinkanker vir die eerste keer by haar gediagnoseer is. Dokters het destyds gedink sy het net ’n paar maande oor om te leef. Elsje se kanker het keer op keer teruggekom.


Elsje het in 1998 aan die Hoërskool Eunice in Bloemfontein gematrikuleer. Sy het die laaste paar jaar op Hermanus gewoon waar sy haar toegespits het op haar kuns. Sy het ook geleer om branderplank te ry, al was sy in ’n rolstoel.

Elsje word oorleef deur haar ouers, Ryk en Sanmarie, haar broer, Ryk jr., en suster, Jean-Marié, en haar swaer, CJ Stander, Blou Bul-rugbyspeler.

OFM Nuus cg/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.