On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

Central SA

Matjhabeng nader hof terwyl werkerstaking vererger

───   KEKELETSO MOSEBETSI 12:39 Thu, 01 Feb 2024

Matjhabeng nader hof terwyl werkerstaking vererger | News Article
Samwu-lede in Matjhabeng vra vir die verwydering van burgemeester, Thanduxolo Khalipha. Foto: Facebook

“Samwu het belowe om die staking te verskerp totdat Khalipha as burgemeester uittree.”

Die Matjhabeng-munisipaliteit het die Hooggeregshof genader om die staking van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) onwettig te laat verklaar.

Werkers van die Welkom-gebaseerde munisipaliteit oefen druk uit op burgemeester Thanduxolo Khalipha om sy amp te ontruim. Ernstige aantygings is teen hom gemaak, onder meer oor sy “diktatoragtige leierskap” jeens werknemers, misbruik van munisipale hulpbronne en weiering om diensverskaffers te vergoed wat werk vir die munisipaliteit voltooi het.

Lonwabo Ngoqo, munisipale bestuurder, sê Samwu se eis vir die burgemeester se verwydering val buite die munisipaliteit se jurisdiksie. Dis ’n besluit wat die regerende party moet neem (omdat burgemeesters “ontplooi” word).

Vrystaatse Samwu-lede gaan voort met betogings ondanks die oorhandiging Maandag (29/1) van die klagskrif aan Koketso Makume, LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta), met die reaksie wat binne sewe dae verwag word.

Tshediso Tlali, burgemeesterswoordvoerder, sê hulle het besluit om die hooggeregshof te nader weens voorvalle waar betogers reëls van betogings oortree het, insluitend intimidasie van werkers wat nie deel is van die staking nie, fisieke konfrontasies met werknemers van die departement van infrastruktuur, rommelstrooiing en die brand van buitebande.Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit se werkers het vullisdromme leeggemaak en dit op hoofpaaie in Hennenman gestrooi. Foto: Facebook

“Berigte dui ook op ontwrigtings in die beplande lewering van noodsaaklike dienste deur die munisipaliteit, asook hindernisse vir werkers van die uitgebreide openbarewerkeprogram wat met dorpskoonmaak en parkinstandhouding getaak is. Daar is kennis geneem van die inhegtenisneming van ’n Samwu-lid vir inmenging met SAPD-bedrywighede,” voeg hy by.

Tlali sê die munisipaliteit het die hooggeregshof dringend genader om die staking te verbied en te verseker dat dienste voortgesit kan word. Intussen het die munisipaliteit aangekondig dat hy vlootbedrywighede vir infrastruktuur en vullisverwydering tydelik opskort as ’n voorsorgmaatreël vir die veiligheid van die werkers, terwyl gebeurlikheidsplanne beraam is vir ononderbroke begraafplaasdienste.

Die munisipaliteit het ook werkers gedreig met die beleid van geen betaling indien geen werk gedoen word nie, en het verklaar dat drostery finansiële gevolge kan inhou. Intussen belowe Samwu om sy staking te verskerp totdat Khalipha uittree.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.