On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Matjhabeng-staking suksesvol verbied

───   10:38 Tue, 06 Feb 2024

Matjhabeng-staking suksesvol verbied | News Article
Werkers van die munisipaliteit staak sedert verlede week Maandag (29/1) en eis dat burgemeester Thanduxolo Khalipha die tuig neerlê. Foto: Kekeletso Mosebetsi

“Die arbeidshof het ook betogers verbied om enige dade van geweld, vandalisme of rommelstrooiing te pleeg.”

Die Matjhabeng-munisipaliteit in Welkom het daarin geslaag om sy werkerstaking te verbied.

’n Dringende aansoek is deur die munisipaliteit ingedien om die staking deur die SA Munisipale Werkersunie (Samwu) onwettig te laat verklaar. In die hofinterdik word Samwu-werkers deur die hof beveel om hulle daarvan te weerhou om werkers wat nie vrywillig aan ’n staking wil deelneem nie, te intimideer of in te meng met hulle werk.

Samwu-lede wat deelneem aan die Matjhabeng-betogings word ook verbied om werkers te dwing om by die staking aan te sluit en ook om hulle te verbied of te beperk om terug te keer werk toe. Die arbeidshof het ook betogers verbied om enige dade van geweld, vandalisme of rommelstrooiing te pleeg.

Werkers van die munisipaliteit staak sedert verlede week Maandag en eis dat burgemeester Thanduxolo Khalipha die tuig neerlê. Verskeie aantygings word teen hom gemaak, soos wanbestuur van onder meer munisipale hulpbronne. Koketso Makume, Vrystaatse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, is sewe dae gegun om op die eise van die werkers te reageer.

Tshediso Tlali, munisipale woordvoerder, sê sommige dienste is tydelik opgeskort as ’n voorsorgmaatreël vir die veiligheid van die werkers. Stakende werkers word gedreig met die beleid van geen betaling vir geen werk. Hulle word gewaarsku hulle optrede kan hul sak raak.

Die munisipale kantoor is oop vir bedrywighede ten spyte van sommige Samwu-werkers wat voortgaan met betogings.

OFM Nuus/ Kekeletso Mosebetsi cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.