On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Oudredakteur stel misdaadroman by NALN bekend

───   ELSABÉ DE JAGER 11:52 Wed, 07 Feb 2024

Oudredakteur stel misdaadroman by NALN bekend | News Article
Hannes Visser ook ’n geakkrediteerde lewensafrigter en motiveringspreker. Foto: Facebook

Voorblad handel oor ’n reeks moorde waarin die joernalis Alex Rheeder telkens eerste op die toneel verskyn.

“Ek het besluit om, weens my ondervinding as joernalis en om bietjie te kroek, my hoofkarakter ’n joernalis te maak.”

Hannes Visser, oudredakteur van die Oudtshoorn Courant, vertel hy wou ’n misdaadroman skryf waarin die polisieman nié die held is nie. Op 15 Februarie gesels die skrywer Igno van Niekerk met Visser oor sy jongste roman, Voorblad, wat einde verlede jaar verskyn het. Die gesprek vind plaas in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein.

Bloemfontein lê diep in Visser se hart, want “eintlik het my skryfwerk, my gedigte, kortverhale en ook my misdaadroman hul oorpsrong in Bloemfontein gevind.”

Hy praat graag oor sy roman wat vol afdraaipaaie en intrige is. Foto verskaf

In 2013 kraai sy kortverhaal, “Die man met die cowboyhoed”, koning in die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se skryfkompetisie. Ná aanleiding van Leon van Nierop, skrywer en rolprentresensent, se opmerking dat dié verhaal as goeie tema vir ’n misdaadroman sou kon dien, is Voorblad gebore.

Voorblad handel oor ’n reeks moorde waarin die joernalis Alex Rheeder telkens eerste op die toneel verskyn. Hy poog nie slegs om die moordenaar te ontmasker nie, maar moet ook die agterdog van die ondersoekbeampte, kapt. Harold Beukes, jeens hom besweer. So trotseer hy boonop twee aanslae op sy lewe.

Vir Visser, deesdae woordvoerder van die burgemeesterskantoor van Oudtshoorn se munisipaliteit, is Voorblad sy vierde pennevrug. In 2009 gee hy saam met elf ander digters die bundel Boksemdais 2 uit. Sy debuutdigbundel, Die jaar toe pa (2019), se heruitgawe, met agt bykomende gedigte, verskyn in 2022. In dieselfde jaar publiseer hy sy lewensafrigtingshandleiding, Ligloop as skoene te maklik pas.

Hannes Visser skryf sedert 2006 ook gedigte, rubrieke en kortverhale. Foto: Facebook

Gevra of aanhangers ’n opvolgroman kan verwag, maak Visser die goeie nuus bekend dat hy reeds aan die werk is en dat lesers se paaie eersdaags dalk wéér met dié van Rheeder en Beukes kan kruis.

OFM Nuus/Elsabé de Jager dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.