On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Polisie soek derde verdagte ná moord op bejaarde Noord-Kaapse boer

───   10:23 Wed, 14 Feb 2024

Polisie soek derde verdagte ná moord op bejaarde Noord-Kaapse boer | News Article
Hugo van Sittert. Foto: Facebook

Dit lyk asof Van Sittert moontlik nog geleef en probeer kruip het.

Die polisie van Keimoes is op soek na ’n derde verdagte in verband met die moord op Hugo van Sittert (71), wie se lyk Donderdag (8/2) op ’n buurplaas gevind is. Van Sittert is glo vier dae tevore, op Sondag 4 Februarie, op sy plaas aangerand tydens ’n loongeskil met ’n werker.

Twee verdagtes is reeds in hegtenis geneem.

Van Sittert het alleen op sy plaas, Bok se Puts, gewoon en geboer, sê Nelis Prins, polisiewoordvoerder. “Die polisie op Keimoes het (verlede) Maandag ’n verdagte persoon aangekeer wat in Van Sittert, wat welbekend was, se bakkie rondgery het.”

Die verdagte het die polisie na ’n huis geneem waar hulle op ’n vuurwapen beslag gelê het. Netwerk24 berig die persoon by wie se huis die vuurwapen gevind is, is op aanklag van die onwettige besit van ’n vuurwapen in hegtenis geneem, terwyl die persoon wat in die bakkie betrap is, gearresteer is vir die besit van ’n moontlik gesteelde voertuig.

‘Van Sittert het glo op verdagtes geskiet’

Dié verdagte het glo vir Van Sittert gewerk. Hy is die Sondag saam met ’n makker na Van Sittert se huis om sy loon van hom te eis. “Volgens die verdagte het Van Sittert glo met ’n .22-geweer op hulle geskiet en een van die verdagtes is glo in sy hand gewond.”

Die verdagte het ná sy inhegtenisnaming uitwysings aan die polisie gedoen oor waar Van Sittert se liggaam veronderstel was om te wees, maar dit is nie gevind nie. Ná ’n soektog is sy lyk op die buurplaas Bok se Dam gevind, sowat 150 m vanaf die plaashek. “Dit lyk asof hy moontlik nog geleef en probeer kruip het.” Dit blyk dat hy met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan is.

‘Politieke leiers vra daarvoor’

Theo de Jager, voorsitter van die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai), sê op X plaasmoorde verskil in vele opsigte van ander moorde. “Dit word deur politieke leiers gevra. Hulle sing daaroor. Dit gaan byna altyd met marteling gepaard. 

“Terwyl die Suid-Afrikaanse regering die EFF toelaat om ’Kill the farmer, kill the boer’ by sy saamtrekke te sing, is die 71-jarige boer Hugo van Sittert tussen Keimoes en Kakamas in die Noord-Kaap vermoor.”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.