Click on the warning image to view this post
Central SA
Polisie vind vrou se kop onder boom in Botshabelo─── HEIDRÈ MALGAS 12:20 Tue, 20 Feb 2024
“Vier liggame is vroeër naby die Seponerivier gevind.”
Die polisie in Botshabelo het die vermiste kop van ’n vrou gevind dae nadat vier liggame met steekwonde in Selosesha, Botshabelo, ontdek is. Ses mense is in verband met die moorde in hegtenis geneem.
Haar kop is onder ’n boom gekry, naby waar die liggame gevind is, sê Motantsi Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Vier liggame is vroeër naby die Seponerivier gevind, waarvan een se kop weg was.”
OFM Nuus het vroeër berig die polisie het twee mans en twee vroue se liggame by ’n stroom in die gebied ontdek. Die liggame is tussen Maandag 22 Januarie en Vrydag 2 Februarie met steekwonde gevind.
Die rivier is naby digte plantegroei aan die N8 langs die spoorlyn. Die ondersoekers het onverpoos gewerk en die beskuldigdes het Vrydag (16/2) in die hof verskyn op aanklag van moord, roof, besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en besit van vermoedelik gesteelde goedere.
Hulle sal Vrydag (23/2) om borgtog aansoek doen. Die ondersoek is in ’n kritieke stadium en die name van die beskuldigdes mag nog nie bekend gemaak word nie.
Enigieen wat kan help met die ondersoek kan kol. Bolsiek bel by 082 466 8530 of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111. Anonieme wenke kan ook via die MySaps-app gestuur word.
OFM Nuus/Heidrè Malgas dg/cg