On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse vrou sien op 97 kans vir nóg avonture

───   KAREN VAN DER BERG 12:16 Fri, 15 Mar 2024

Bloemfonteinse vrou sien op 97 kans vir nóg avonture | News Article
Tannie Marie Fick geniet elke oomblik op die glykabel. Foto verskaf

“Ons moes destyds nog met ’n skuit oor die rivier gaan om by die skool uit te kom. Soms, veral in die somer, was daardie rivier baie vol.”

Sy het ’n ontembare gees wat geen perke ken nie. Sy skrik beslis nie daarvoor om oud te word nie.

So vertel ’n dapper tannie Marie Fick (97) van die Lofdal-aftreeoord in Bloemfontein oor haar prestasie om haar eie wêreldrekord te verbeter as die oudste persoon wat met ’n glykabel die afstand van 1,1 km oor die see aangedurf het.

Tannie Marie Fick (97) spog met ’n wêreldrekord in glykabel. Foto verskaf

Verlede week se rekord by Die Punt op Mosselbaai was haar tweede poging in drie jaar– die vorige keer was sy 94.

Fick het my haar dogter, Mariaan Joubert, in Danabaai gekuier en die geleentheid aangegryp. “Dit was ’n wonderlike ervaring en ek was regtig nie bang nie. Dit lyk dalk hoog en gevaarlik, maar daar is heelwat veiligheidsmaatreëls en -toerusting.”

Sy sê dit was heerlik om die see se briesie teen haar gesig te voel en die natuurskoon van daar bo te beleef.

Tannie Marie sê sy was nog altyd lief vir avontuur. Sy het langs die Oranjerivier in die omgewing van Prieska en Griekwastad grootgeword. “Ons moes destyds nog met ’n skuit oor die rivier gaan om by die skool uit te kom. Soms, veral in die somer, was daardie rivier baie vol.”

Tannie Marie Fick (97) maak seker oor die veiligheidsmaatreëls. Foto verskaf

Sy skerts sy is doodbang vir spinnekoppe en enigiets wat oor die vloer skarrel.

Op die oomblik beplan sy nie groot nuwe avonture nie en geniet sy haar daaglikse lewe. Sy dink graag terug aan haar jare as sendingwerker saam met haar oorlede man, ds. Uys Fick, in Zambië.

Sy woon op haar eie in ’n woonstel en is lief vir haar tuin. “Ek het die laaste maande heerlik aan tamaties uit my tuin gesmul.”

Sy gaan wel begin om blokraaisels aan te pak en haar Afrikaans sodoende te verbeter. “Ek is ook baie lief vir lees, Bybelstudie doen en Bybel lees.”

Tannie Marie Fick (97) laat glykabel baie maklik lyk. Foto verskaf

Tannie Marie sê sy dink nie daar is ’n wonderkuur om jonk te bly nie, maar oefening en gesonde kos moet deel van ’n mens se lewe wees. Haar raad om gesond te bly, sal egter wees om Sondae stil en rustig te word en te rus.

Mariaan sê haar ma is ’n groot inspirasie vir almal, al is sy baie beskeie oor haar prestasies. “Almal het ’n avontuurlus, en my ouers het myne wakker gemaak. Hulle was altyd aktief en het nooit stilgesit nie.”

Haar pa het verskeie Comrades-marathons voltooi en was ook ’n rekordhouer in sy ouderdomsgroep. “My ma het my geleer om die lewe en uitdagings aan te gryp. Ek is regtig so trots op haar.”

OFM Nuus/Karen van der Berg dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.