On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteiner gegroet ná hartaanval in Kaapstad-fietstoer

───   KAREN VAN DER BERG 10:15 Mon, 18 Mar 2024

Bloemfonteiner gegroet ná hartaanval in Kaapstad-fietstoer | News Article
Jimmy Niewoudt (links) en dr. Freek Bester, was boesemvriende wat baie keer saam fiets gery het. Foto verskaf

“Benewens my twee broers was hy soos my ander broer. Hy het my soveel inspirasie gegee en lewensfeite geleer.”

Die gedenkdiens van ’n geliefde Bloemfonteiner, wat tydens die Kaapstad-fietstoer aan ’n hartaanval gesterf het, vind Vrydag in die Baptistekerk plaas.

Jimmy Niewoudt (73) was ’n afgetrede luitenant-kolonel in die weermag se geneeskundige diens. Hy is voorverlede Sondag aan ’n hartaanval dood kort nadat fietsryers by die Parade in Kaapstad in die pad geval het. Dit was die 15de keer wat Nieuwoudt die 42 km sou aandurf.

Dr. Freek Bester, ’n internis van Bloemfontein, sê hy is verpletter oor sy goeie vriend se dood. Hy en Nieuwoudt het die Sondag saam weggespring. Die boesemvriende het graag saam fiets gery nadat Nieuwoudt vir Bester aan die sportsoort bekendgestel het. Hulle het saam Kaapstad toe gery vir die fietstoer, saam tuisgegaan en van die gastehuis saam na die wegspringplek vertrek.

Die gedenkdiens van Jimmy Nieuwoudt vind vandeesweek plaas. Foto verskaf

Bester het voor Nieuwoudt uitgery en nie besef sy vriend het by die 9 km-merk skielik begin sleg voel en inmekaargesak nie. Nooddienswerkers is oral langs die roete aan diens en van hulle het met Nieuwoudt na die Groote Schuur-hospitaal gejaag. Hy is daar dood verklaar.

Naasbestaandes van Nieuwoudt het Bester langs die pad gebel en in kennis gestel dat hy siek geword het. Hy moes hulle bel sodra hy die ren voltooi het. Dit is toe wat hy uitgevind het Nieuwoudt het gesterf.

“Ons was baie lief vir fietsry. Ons het ’n vriendskap gehad wat baie broederlik was,” vertel Bester. “Benewens my twee broers was hy soos my ander broer. Hy het my soveel inspirasie gegee en lewensfeite geleer.”

Hy het my lewe vol gemaak. Ons het saam vele avonture aangepak en het ’n boek vol lewenservaring gedeel.

Bester sê hy sal hom onthou as iemand sonder pretensie. “Jimmy kon goed luister en het opreg in sy medemens belanggestel. Hy was altyd reg vir ’n kwinkslag en het ’n ongelooflike sin vir humor gehad.”

Bester sê hy is so dankbaar vir Jimmy in sy lewe en die jare se vriendskap. “Hy het my lewe vol gemaak. Ons het saam vele avonture aangepak en het ’n boek vol lewenservarings gedeel.”

Die Raad van Militêreveterane-organisasies van Suid-Afrika het op sy Facebook-blad hulde aan Nieuwoudt gebring en meegevoel met sy naasbestaandes betuig.

• Die gedenkdiens is gereël vir Vrydag (22/3) om 11:00 in die Bloemfonteinse Baptistekerk.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.