On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Polisiebeamptes kry borgtog vir ontvoering, dwarsboming van gereg

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:36 Fri, 12 Apr 2024

Polisiebeamptes kry borgtog vir ontvoering, dwarsboming van gereg | News Article

“Ten spyte daarvan dat die klaer vir hulle gesê het dat hy nie ’n saak by die polisiekantoor aangemeld het nie en sy onwilligheid om saam met hulle te gaan, het hy wel ingestem nadat hulle hul dienskaarte aan hom gewys het.”

Twee polisiebeamptes wat van ontvoering en dwarsboming van die gereg aangekla word, moet op 26 April in die Khutsong-landdroshof in die Wes-Rand, Gauteng, verskyn. Hulle is R5 000 borgtog elk toegestaan.

Sers. Isaac Mathe Mokalolise en konst. Phumlani Dlamini, asook twee medepligtiges, het na bewering die klaer se woning in ’n staatsvoertuig besoek en valslik beweer daar is bewyse by die polisiekantoor teen hom, sê Lumka Mahanjana, Gautengse NVG-woordvoerder.

Ten spyte daarvan dat die klaer vir hulle gesê het dat hy nié ’n saak by die polisiekantoor aangemeld het nie en onwillig was om saam met hulle te gaan, het hy wel ingestem nadat hulle hul dienskaarte aan hom gewys het.

Die polisiebeamptes het egter ’n ander pad gery, waarna die klaer dit bevraagteken het. Hy is toe deur die twee medepligtiges, wat steeds op vrye voet is, met ’n vuurwapen gedreig.

Toe die klaer sien sy broer ry verby, het hy om hulp geskree. Die broer het die voertuig agtervolg en tot stilstand gebring. Die polisiebeamptes is toe in hegtenis geneem deur ’n kollega, ook ’n polisiebeampte, wat van diens af was en die voorval gesien gebeur het.

Die beskuldigdes het tydens hul eerste hofverskyning onskuldig gepleit, sê Mahanjana. Voorwaardes vir hul vrylating sluit in dat hulle nie die Merafong-distrik mag binnegaan nie, of hul jurisdiksiegebied mag verlaat sonder om die ondersoekbeampte in kennis te stel nie.

Hulle mag ook nie met staatsgetuies inmeng nie, en enige vuurwapens moes oorhandig word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.