On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Tiener van Sasolburg sterk goed aan ná chemo in Bloemfontein

───   HEIDRÈ MALGAS 15:35 Mon, 15 Apr 2024

Tiener van Sasolburg sterk goed aan ná chemo in Bloemfontein | News Article
Carien van Dalen van Sasolburg. Foto: Heidrè Malgas

“Sy is ’n vegter en sal nooit lê en sê sy gee moed op nie.”

’n Sestienjarige meisie van die Vaaldriehoek kon Maandag (15/5) huis toe gaan nadat sy vyf dae in die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein deurgebring het vir haar tweede chemoterapiesessies.

’n Kankergewas van 7 kg is in Januarie van Carien van Dalen van Sasolburg se een eierstok verwyder. Maar dié leerling van die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg is ’n sterk jong meisie, en nie eens kanker sal haar onderkry nie.

Operasionele bestuurder van die onkologiesaal by Nasionaal, Rapitso Maneo, Carien van Dalen en Chrissie Jacobs. Foto: Heidrè Malgas. 

Sy sê sy is bietjie moeg ná haar tweede chemoterapiesessie, maar andersins gaan dit goed. “Die feit dat ek rusteloos raak wanneer ek chemoterapie ontvang, is vir my die ergste; dit laat my op ’n knop voel.”

Carien moet op 9 Mei terug in Bloemfontein wees vir haar derde chemoterapiesessie, waar hulle ook skanderings en toetse sal doen. Intussen sien sy die meeste daarna uit om terug te gaan skool toe. Sy verlang na haar vriende en om saam met die mense te wees wat sy liefhet.

“My familie is my grootste ondersteuners in hierdie tyd, veral my boetie (JJ Fry). Hy is die beste deel daarvan, en ek is seker as hy saam met my by die hospitaal kon gewees het, sou hy. Hy is my rots,” vertel sy.

Carien het die afgelope naweek een van haar gunstelingkunstenaars, Dirk van der Westhuizen, ontmoet; dit was ’n droom wat waar geword het vir haar.

Die organisasie vir kinders met kanker Cupcakes of Hope het in die hospitaal by Carien gekuier en haar bederf met die lekkerste cupcakes.


‘Ek stap hierdie pad elke dag saam met haar’

Carien se ma, Chrissie Jacobs, sê die kankerdiagnose het die familie getraumatiseer, want dit was glad nie iets wat hulle verwag het nie. “Ons hou aan bid; ons is in die Here se hande.

“As ’n ma ondersteun ek haar, ek stap hierdie pad elke dag saam met haar; sy is nie alleen nie, want hierdie mamma is elke keer hier,” sê Jacobs.

Carien het Saterdag (13/04) een van haar gunstellingkunstenaars, Dirk van der Westhuizen, ontmoet. Foto verskaf

Wat sy die meeste bewonder aan haar dogter, is haar wilskrag; sy gee eenvoudig nie moed op nie. “Sy is ’n vegter en sal nooit lê en sê sy gee moed op nie.”

Jacobs is vol lof vir die uitstekende diens wat hulle van die personeel en dokters ontvang; sy meen hulle stap altyd ook die tweede myl saam.


Die familie het dringend hul eie voertuig nodig om die ritte na en van die hospitaal te vergemaklik, aangesien dit moeilik is om op die hospitaal se busdiens staat te maak. Daar is soms nie plek nie, of die bus ry laat snags.

Enigiemand wat die gesin met hul brandstofkoste wil ondersteun, kan Chrissie bel of whatsapp by 079 482 5474.

OFM Nuus/Heidrè Malgas

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.