Central SA
Man op Colesberg aangekeer met groot vrag dwelms─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:47 Sat, 20 Apr 2024
“Polisie het inligting ontvang dat hy moontlik Khat vervoer.”
‘n Vragmotorbestuurder is in die Noord-Kaap in hegtenis geneem weens die onwettige besit van en handel in dwelms.
Die verdagte (41) is by ’n vulstasie op Colesberg aangekeer nadat die polisie inligting ontvang het dat hy moontlik khat vervoer, sê lt.kol. Sergio Kock, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.
Twaalf bokse is gevind waarin 2 300 sakke khat was. Foto verskaf
Die polisie het die vragmotor deurgesoek en twaalf bokse gevind waarin 2 300 sakke khat was. Die sakke, wat 45 kg elk geweeg het, is ongeveer R117 000 werd.
Die man, wat van Johannesburg op pad Kaapstad toe was, sal binnekort in die Colesbergse landdroshof voorkom.