On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Oscar doen wel gemeenskapsdiens by kerk in Waterkloof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:53 Tue, 23 Apr 2024

Oscar doen wel gemeenskapsdiens by kerk in Waterkloof | News Article
Oscar Pistorius. Foto: Twitter

“Vroeër is berig Pistorius sou die NG Kerk Waterkloof se vloere vee en motors vir lidmate parkeer.”

Oscar Pistorius is nou ’n opsigter by ’n kerk in ’n gegoede woonbuurt in die ooste van Pretoria waar hy sy gemeenskapsdiens sal doen.

Die voormalige Paralimpiese atleet het amper elf jaar in die tronk deurgebring ná die moord op sy meisie, die model Reeva Steenkamp, op Valentynsdag in 2012. Pas ná sy vrylating op parool is egter bespiegel dat Pistorius as deel van sy gemeenskapsdiens as vrywilliger by die NG Kerk Waterkloof sou begin werk.

Die Britse poniekoerant Daily Mail het vroeër berig dat Pistorius die kerk in Pretoria-Oos se vloere sou vee en motors vir lidmate sal parkeer. Ds. Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk, het die gerugte teenoor Netwerk24 ontken.

Lubbe het gesê as Pistorius sy gemeenskapsdiens by die NG Kerk wou doen, was hy welkom, maar dat hy dieselfde behandel sou word as enige ander lidmaat. Hy het ook gesê die kerkraad sou besluit watter gemeenskapsdiens Pistorius sou doen.

Ds. Bernice Serfontein, medeleraar van die NG Gemeente Waterkloof, het die gerugte bevestig dat Pistorius nou werk op die kerkperseel in Deystraat, Nieu-Muckleneuk. Sy wou egter nie verder kommentaar lewer nie en het gesê die kerk werk aan ’n mediaverklaring.

Die kerk is sowat 1,4 km van sy oom Arnold Pistorius se huis, waar hy woon sedert hy op 5 Januarie vrygelaat is. Pistorius was amper elf jaar agter tralies vir die moord op Steenkamp. Hy het haar op 14 Februarie 2012 doodgeskiet nadat hy haar volgens sy getuienis vir ’n inbreker aangesien het.

Pistorius is op streng paroolvoorwaardes vrygelaat. Hy moet gemeenskapdiens verrig en mag nie drank gebruik of onderhoude aan die media toestaan nie. Hy mag ook nie sy rykmansbuurt sonder toestemming verlaat nie.

Hy is verplig om kursusse oor woedebestuur en geslagsgeweld by te woon. Sy parool geld tot 5 Desember 2029.

Pistorius, ook bekend as die lemnaeler, was jare lank bekend as die vinnigste man sonder bene. Hy het ses goue medaljes op die Paralimpiese Spele verower en was die eerste atleet sonder bene wat aan die gewone Olimpiese Spele deelgeneem het.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.