On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Oudleerder van Meisieskool Oranje sing nou in hemel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:49 Tue, 23 Apr 2024

Oudleerder van Meisieskool Oranje sing nou in hemel | News Article
Palesa Kitsa. Foto: Facebook

“Palesa is oorlede nadat sy ’n maand in Mediclinic Bloemfontein se waakeenheid was.”

Die begrafnis van die Bloemfonteinse student wat oorlede is nadat sy ’n maand in die waakeenheid deurgebring het, vind Saterdag (27/4) om 11:00 plaas uit die Bicentenary-Metodistekerk.

Die omstandighede rondom haar dood bly ’n raaisel en sal deur ’n nadoodse ondersoek uitgeklaar word, sê Kelebogile Kitsa, ma van die oorlede student.

Palesa Kitsa is Woensdag (17/04) dood nadat sy ’n maand in Mediclinic Bloemfontein se waakeenheid was. Sy het vermoedelik gesterf weens ’n giftige stof wat sy ingeasem het.

‘Sy was vuurwarm en kon skaars asemhaal. Ek het onmiddellik die ambulans gebel’

Kelebogile vertel haar dogter het die derde naweek in Maart by haar huis buite Bloemfontein kom kuier en gekla oor diarree. Palesa het in die stad in ’n woonstel gewoon.

Ten spyte daarvan dat sy sleg gevoel het, het sy daardie aand ’n jeugbyeenkoms bygewoon, aan universiteitskooroefeninge deelgeneem en tyd in die stad deurgebring.

Terug by die huis het sy steeds gekla oor maagpyn. Palesa is na haar kamer om te studeer. Sy het egter haar ma ’n uur later vanuit die kamer gebel en gesê sy voel nie lekker nie.


“Sy was vuurwarm en kon skaars asemhaal. Ek het onmiddellik die ambulans gebel,” vertel Kelebogile. Palesa was so swak dat sy in die waakeenheid opgeneem is en op ventilasie geplaas is.

Kelebogile vertel Palesa het aanvanklik op behandeling gereageer, maar in laaste dae haar bewussyn verloor. Slegs haar ma en ouma, Dorah Kitsa, is by haar toegelaat.

Palesa was besig met tandheelkunde aan die Universiteit van Tegnologie en was ’n oudleerling van die Meisieskool Oranje. Sy sou op 29 Julie 22 jaar oud geword het.


Palesa Kitsa. Foto verskaf

Kelebogile sê sy sal haar dogter altyd onthou as die vriendelike kind met baie musiektalent. “Sy het soveel prestasies in haar lewe behaal, maar was altyd nederig. Sy het ’n omgeehart gehad en was lief vir mense.”

‘We honour you, Pales’

Magé Troskie, 2021-hoofmeisie, het namens dié jaargroep ook ’n huldeblyk gelewer. “Jy het haar eers hoor aankom, sing-sing, en dan gesien. Palesa was die kleinste maar helderste lig van die klas van 2021.

“Haar manier was liefde. No doubt about it. Sag maar sterk. Stil maar dapper. Sy het die mooiste stem gehad en het altyd ’n song geneurie. Sy kon die musiek hoor. Everywhere. We honour you, Pales. Ons hoor jou in die musiek.”

Anne-Marie Klink, hoërskoolhoof, sê Oranje rou oor die dood van Palesa. Ons hart gaan uit na al haar geliefdes in hierdie moeilike tyd.”

“Ons klas sal haar altyd onthou vir haar mooi glimlag en stil manier waarop sy onder jou vel ingekruip het,” sê Gerhardus Bosch, Palesa se registeronderwyser haar hele hoërskoolloopbaan lank.

OFM Nuus/Charne van Merwe cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.