On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Sierduiwe skud vere reg om op Upington te pronk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:27 Thu, 25 Apr 2024

Sierduiwe skud vere reg om op Upington te pronk  | News Article
Die Komorner Tuimelaarduif. Foto verskaf

“Sierduiwe, wat ook as mooi-lyk-duiwe bekend staan, is nie voëls van eenderse vere nie. Dié duiwe is deel van 45 verskillende rasse.”

Inwoners van Upington kan hulle gereedmaak vir die jaarlikse sierduifkompetisie wat Saterdag (27/4) op die Upington-terrein plaasvind.

Op dieselfde dag vind die Modena Prestigeskou op dieselfde terrein plaas waar van die beste Modenas deelneem – die ras met die meeste kleure.

Altesaam 428 duiwe van 35 vertoners gaan kom pronk op die Suid-Afrikaanse Sierduifvereniging se streekskampioenskou, sê Seppie Esterhuysen, voorsitter van die Noord-Kaapse Sierduifvereniging.

Sierduiwe, wat ook bekend staan as mooi-lyk-duiwe, is nie voëls van eenderse vere nie. Die duiwe is deel van 45 verskillende rasse en elkeen het sy eie wenduif.

Die Gros Mondainduif. Foto verskaf

Van die grootste rasse is die Runts en die Gross Modains en die kleinste ras is die Portugese tuimelaar. Sierduiwe kan ook in verskillende klasse ingedeel word, onder andere waaiersterte, kortbekduiwe, rollers, pronkduiwe, blaasduiwe, veervoete en werksduiwe. Elke klas bestaan uit verskillende rasse. Daar is ’n senior en ’n junior afdeling.

Esterhuysen vertel die beoordeling begin binne die verskillende rasse, waar wenners dan aangewys word. “Al die wenners kry dan punte op grond van die betrokke rasstandaard, en die sewe kandidate met die hoogste punte dring deur na die finale beoordeling waaruit ’n kampioen in die senior en junior afdelings aangewys word.”

Die kampioenduif en reserwekampioen word uit die topsewe aangewys, en deur die hoofbeoordelaar van die dag, Pieter Neethling van die Wes-Kaap, gekies.

Die ander twee senior beoordelaars is Chris van der Walt van Bloemfontein en Chris de Bruin van Pretoria. Die twee beoordelaars vir die Prestigeskou is Jan Lombaard, ook van Pretoria, en De Bruin.

Die bodemtuimelaarduif. Foto verskaf

Die Kampioenduif is verlede jaar deur Hein Boshof van Makwassie in Noordwes gewen.

Die opening is om 08:00, waarna die beoordeling sal begin. Die topsewe sal om 13:00 aangewys word.

Die Sierduifvereniging bestaan uit verskillende streke. Die Noord van die Vaal-streek sluit Gauteng en Limpopo in. Die Oos-streek is in Mpumalanga en die Noord-Vrystaat is gesentreer om Kroonstad in die Vrystaat. Dan is daar ook die Oostelike Provinsie, die Wes-Kaap, Suidwestelike Distrikte, KwaZulu-Natal, Noord-Kaap en Wes-Transvaal.

Russet Tri Gazzi-hen. Foto verskaf

Die Suid-Afrikaanse Sierduifvereniging, wat op 13 April 1943 in Kaapstad gestig is, het gegroei tot ’n groot organisasie wat vandag bestaan uit tien verskillende gebiede en 20 spesialiteitsklubs wat al die hoeke van Suid-Afrika bereik en ’n uiteenlopende geskiedenis van meer as 74 jaar het.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.