On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Jong verdrinkingslagoffer van Hartbeespoortdam het geleef vir elke avontuur

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:23 Thu, 02 May 2024

Jong verdrinkingslagoffer van Hartbeespoortdam het geleef vir elke avontuur | News Article
Callie Erasmus. Foto verskaf

“Callie het onlangs sy hart vir die Here gegee. Ek weet die Here het vir Callie kom haal.”

Naasbestaandes en vriende van die avontuurlustige 20-jarige van Hartbeespoortdam wat die naweek verdrink het, neem Saterdagoggend afskeid van hom.

’n Gesellige kuier Saterdagnag (27/4) het in ’n nagmerrie ontaard toe Callie Erasmus in die Krokodilrivier verdrink het, nadat hy vermoedelik deur ’n skag geval het.

“Erasmus en vriende het die aand van die voorval by die dam gekuier toe hy en een van die vriende glo oor die reling van die skag geklim het,” sê brig. Sabata Mokgwabone.

‘Erasmus is vermoedelik toe deur die kanaal en oop sluise meegevoer’

“Daar word beweer dat Erasmus en sy vriend die skag se deksel oopgemaak het. Erasmus het glo teen die staalleer aan die binnekant afgeklim. Hy het vermoedelik geval en is ingetrek deur die besproeiingstelsel, waarvan die suigkrag baie sterk is.”

Erasmus is vermoedelik deur die kanaal en oop sluise meegevoer. Sy liggaam is in ’n poel in die Krokodilrivier gevind.

Die skag is ongeveer 10 m hoog, waarvan omtrent 7 m onder water is.

“Die oorledene se liggaam is deur Noordwes-polisieduikers gevind wat op die toneel was. Daar word berig dat die gebied waar Erusmus deurgeval het, beskadig is en toegang verbode is behalwe vir personeel van water en sanitasie,” sê brig. Mokgwabone.

Die Taktiese Reaksie-eenheid se Arthur Crewe sê hulle het Erasmus se liggaam omstreeks 07:30 gevind. Die polisie is besig met ’n geregtelike doodsondersoek na die voorval, wat tussen 01:00 en 02:00 gebeur het.

“Ek en Callie was van kleins af onafskeidbaar,” vertel sy nefie JC Bekker (21), wat die aand van die voorval saam met Callie was. “Hy was sedert kleuterskooldae my beste vriend en ons het alles saam gedoen.

Callie en JC was nie net nefies nie, maar beste vriende. Foto verskaf

“Callie het elke dag voluit gelewe. Hy is ’n energieke jong man wat op avontuur gefloreer het, en was altyd die life of the party.”

Volgens Bekker het Callie onlangs sy hart vir die Here gegee, maar het dit nog met niemand behalwe hom gedeel nie. “Callie wou graag sy lewe regkry en ek’s bly hy het dit betyds gedoen. Ek weet die Here het vir Callie kom haal.”

Hoërskool Wagpos, waar Erasmus in 2021 gematrikuleer het, het sy meegevoel met die familie op Facebook betuig ná die tragiese voorval.

Erasmus se gedenkdiens word Saterdag (4/3) om 10:00 in die Harties Kuierkerk gehou.

OFM Nuus/Charne van der Merwe   cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.