On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bejaarde egpaar van Ladybrand op plaas aangeval

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:33 Thu, 02 May 2024

Bejaarde egpaar van Ladybrand op plaas aangeval | News Article
Foto: farmattacks.com

“Een van die verdagtes het die bejaarde man met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan, waarna die egpaar met lakens vasgebind en geblinddoek is.”

Die Ladybrand-polisie is op soek na vier verdagtes nadat ’n bejaarde egpaar in hul plaashuis aangeval is.

“Die egpaar, onderskeidelik 65 en 66 jaar oud, is in ’n stabiele toestand in die hopsitaal nadat albei beserings aan hul arms en kop opgdoen het,” sê sers. Mahlomola Kareli.  

Die egpaar was Woensdag (1/5) om 23:30 in die sitkamer toe hulle glo geluide in die kombuis gehoor het. Die verdagtes het vermoedelik toegang tot die huis gekry deur die veiligheidshek oop te dwing.

‘Die verdagtes het huishoudelike items geneem’

Een van die verdagtes het die bejaarde man met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan, waarna die egpaar met lakens vasgebind en geblinddoek is.

“Die verdagtes, gewapen met ’n koevoet, het sleutels van die kluis geëis en elf vuurwapens gesteel: ses gewere, twee haelgewere, twee handwapens en een rewolwer,” sê Kareli.

Voor hulle in ’n wit Mahindra-enkelkajuitbakkie met registrasie HXL158FS van die toneel gevlug het, het verdagtes verdere huishoudelike items geneem.

‘Die slagoffers is in ’n ernstige maar stabiele toestand na die hospitaal geneem’

Albei slagoffers het beserings aan die voorkop, arms en kop opgedoen. Hulle is in ’n ernstige maar stabiele toestand na die hospitaal geneem.

Die Ladybrand-polisie het ’n huisroofsaak geopen vir verdere ondersoek. Die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad, wat saam met Ladybrand se polisie werk, het ’n soektog van stapel gestuur. 

Enigiemand wat dalk inligting het oor waar die verdagtes is, word versoek om speurkol. Ben Bolsiek by 082 466 8530 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel, óf ’n anonieme wenk na die MySaps-app te stuur.

‘In die derde kwartaal is altesaam 88 plaasaanvalle gedokumenteer’

Verlede jaar was daar ’n merkbare oplewing in plaasaanvalle, met Suid-Afrika wat byna een aanval per dag op plase gesien het.

AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid het in die derde kwartaal van 2023 altesaam 88 plaasaanvalle gedokumenteer, insluitend 13 wat tot sterftes gelei het, van Julie tot September 2023. In vergelyking met die vorige kwartaal (April tot Junie) was daar minder aanvalle (73), maar ’n groter getal plaasmoorde (23).

Hoewel daar ’n effense afname in aanvalle was van Junie tot Julie (van 29 tot 27), was daar in Augustus ’n aansienlike toename met 37 aanvalle – die hoogste maandelikse syfer verlede jaar.

‘Bejaardes is 55% van die slagoffers in hierdie aanvalle’

Dit was die tweede geval in 2023 waar meer as 30 plaasaanvalle binne ’n enkele maand plaasgevind het, die laaste was in Januarie toe 31 aanvalle aangemeld is.

Vrystaat en Gauteng het gedurende dié kwartaal die swaarste deurgeloop onder plaasaanvalle, onderskeidelik 18 en 16. Daarbenewens het die Wes-Kaap, Limpopo en Oos-Kaap elk minstens tien aanvalle van Julie tot September 2023 aangemeld.

Bejaardes is egter 55% van die slagoffers in hierdie aanvalle.

OFM Nuus/Charné van der Merwe  mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.