On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

Central SA

Kranslegging vir adjunkhoof ná tragiese motorongeluk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:48 Mon, 06 May 2024

Kranslegging vir adjunkhoof ná tragiese motorongeluk | News Article
Louwrense Badenhorst (53) en sy dogter Michelle (23). Foto: Facebook

“Louwrense Badenhorst (53) en sy dogter Michelle (23) is vermoedelik op slag dood nadat ’n ander voertuig teen hul voertuig gebots het.”

Leerders en personeel van die Laerskool Tuinrand in Pretoria het tydens ’n kranslegging-en-huldeblykseremonie afskeid geneem van hul adjunkhoof wat saam met sy dogter in ’n ongeluk gesterf het.

Foto verskaf

Louwrense Badenhorst (53) en sy dogter Michelle (23) is vermoedelik op slag dood nadat ‘n ander voertuig met hul voertuig gebots het, sê lt. kol. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder.

Michelle het glo Vrydag (4/5) kort ná 03:00 wakker geword van erge maagpyn. Badenhorst en sy dogter was op pad na die Zuid-Afrikaans-hospitaal in Muckleneuk toe ’n BWM teen ’n hoë snelheid teen Badenhorst se Peugeot 305 op die hoek van Park- en Troystraat in Sunnyside gebots het.

Badenhorst, was die afgelope nege jaar adjunkhoof by die Laerskool Tuinrand in die weste van Pretoria.

Michelle Badenhorst (23) by haar ma, Annie (agter), haar suster, Kaylee (11), haar broer, Devin (19) en haar pa, Louwrense Badenhorst (53).  Foto: Facebook

“Mnr. Louwrense het in Oktober 2015 as adjunkhoof by Laerskool Tuinrand begin werk en diep spore hier getrap,” vertel Kobus van Dyk, skoolhoof. “Benewens sy rol as adjunkhoof was hy ook die hoof van sport, kultuur en akademie, lewensoriënteringonderwyser en afrigter van die o.11-rugbyspan.

“In sy tyd by Laerskool Tuinrand het hy talle verbeteringe aangebring aan sportinfrastruktuur, waaronder die aanbou van fasiliteite wat die skool ’n kompeterende voordeel gegee het. Akademie en kultuur het ook onder sy leiding floreer.”

Van Dyk beskryf Badenhorst as iemand wat altyd gretig was om te help. “Louwrense was nie een vir stilsit nie. Saam het ons groot planne gemaak en deurgevoer – ons moes nog baie planne maak. Die bydraes wat hy gelewer het, dien as bewys van sy hardwerkendheid.

Michelle Badenhorst (23). Foto: Facebook

“Louwrense los ’n onuitwisbare nalatenskap hier by Laerskool Tuinrand. Hy sal altyd onthou word vir die manier waarop hy met mense gewerk het, dit was maklik om van hom te hou. Louwrense was ons kollega, onderwyser, afrigter en meer as dit was hy ’n kosbare vriend. Ons gaan hom verskriklik mis.”

Van Dyk vertel een van die projekte wat nog uitgevoer moet word, sal ter nagedagtenis aan hul geliefde adjunkhoof na Badenhorst genoem word.

Badenhorst en sy vrou, Annie, het verlede week hul 25ste huweliksherdenking gevier. Hul jongste dogter, Kaylee (11), is ’n gr. 6-leerling aan die Laerskool Tuinrand.


Hulle seun, Devin Badenhorst (19), is ’n eerstejaarstudent aan die Baylor-Universiteit in Texas, VSA, waar hy ook tennis speel. Dit is nog nie duidelik wanneer hy na Suid-Afrika sal terugkeer nie. Begrafnisreëlings is ook nog nie bekend nie.

Die polisie in Sunnyside ondersoek ’n saak van strafbare manslag, sê Masondo.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.