On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

Miljoene geëis ná ontvoering van Brits-tieners

───   ZENANDE MPAME 13:40 Mon, 06 May 2024

Miljoene geëis ná ontvoering van Brits-tieners  | News Article
Sewe beskuldigdes verskyn Vrydag in die hof. Foto: OFM News

“Die 50-jarige man wat die eienaar van die huis is, het nie Vrydag in die hof verskyn nie, want hy het besluit om staatsgetuie te word.”

Sewe verdagtes wat vir die ontvoering van die Mohammed-tieners in hegtenis geneem is, sal na verwagting Vrydag (10/5) in die Brits-landdroshof verskyn op twee aanklagte van ontvoering en twee van afpersing.

Toe hulle Vrydag (3/5) in die hof verskyn het, het ’n verklaring onthul dat die verdagtes miljoene geëis het vir die vrylating van die tieners.

Humphrey Martin (48), Nathaniel Mokwena (41), Sendry Phage (58), Virgilo Hlongwane (33), Nkanyiso Hadebe (25), Boitumelo Bogatsu (44) en Thuloane Makume (47) het nie borgtog gekry nie omdat nie al die regsverteenwoordigers gereed was nie.

‘Een van die beskuldigdes is ’n polisiesersant’

Een van die sewe beskuldigdes – Makume – is ’n polisiesersant wat saam met die Letlhabile-speurders gestasioneer was. Die agtste verdagte wat Dinsdag 9 April in hegtenis geneem is, is die eienaar van die huis waarin die tieners aangehou is. Sy identiteit sal eers bekend gemaak word wanneer hy getuig.

“Die 50-jarige man wat die eienaar van die huis is, het nie Vrydag in die hof verskyn nie, want hy het besluit om staatsgetuie te word,” sê Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes.

“Al sewe beskuldigdes staan tereg op twee aanklagte van ontvoering en twee van afpersing, hulle is in aanhouding tot hul volgende hofverskyning Vrydag (10/5).”

Maroela Media berig ’n losprys van R50 miljoen is vir die meisie en R60 miljoen vir die seun geëis. Dit is onbekend of die losprys deur die familie betaal is.

Toe Mokgwabone gevra is of die familie ’n losprys betaal het, het Mokgwabone gesê: “Die saak is steeds sub judice, nie alle inligting sal nou bekend gemaak word nie.”

Die tieners is Maandag 25 Maart vrygelaat nadat hulle in ’n huis in Klipgat gevind is. Hulle is deur paramedici by die Klipgat-polisiekantoor ondersoek. Hulle was baie moeg en getraumatiseerd, maar ongedeerd.


Die Mohammed-tieners is Woensdag 6 Maart op pad na hul skool in Brits naby Hartbeespoort ontvoer. Die Mercedes-Benz waarin die tieners gery het, is deur die bestuurder van ’n Audi A3 gestamp, om dit te dwing om te stop.

“Voorlopige ondersoeke toon die Audi A3 is in Maart in Garsfontein, Pretoria, gesteel,” sê Mokgwabone.

‘Opod ondersoek 'n saak van poging tot moord’

Intussen ondersoek die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ’n saak van poging tot moord teen die Brits-polisiekantoor nadat hulle ’n man aangerand, op hom geskiet en toegesluit het omdat hulle gedink het hy was een van die ontvoerders.

“Opod het die dossier oorgeneem en ondersoek die saak,” sê Phaladi Shuping, NVG-woordvoerder.

OFM Nuus/Zenande Mpame dg/cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.