On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Twee in Noordwes in hegtenis geneem weens ontvoering

───   14:32 Tue, 07 May 2024

Twee in Noordwes in hegtenis geneem weens ontvoering | News Article
’n Vermeende ontvoerder. Foto verskaf

“Die ontvoerders het na bewering gedreig om hom dood te maak indien die familie nie aan hul eise voldoen nie.”

’n Verdagte (33) is Dinsdag (7/5) in die Stilfontein-landdroshof verwag weens beweerde ontvoering, afpersing en die onwettige besit van vuurwapens. Sy makker is deur die polisie gewond en nog onder polisiebewaking in die hospitaal.

’n Slagoffer (23) is Saterdag (4/5) in die vroeë oggendure buite ’n nagklub op Stilfontein ontvoer deur gewapende mans in ’n Nissan-voertuig. Die slagoffer se voertuig, ’n Volkswagen Polo, is ook tydens die ontvoering gesteel, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder. 

Kort daarna het die verdagtes ’n losprys van die slagoffer se familie geëis. Hulle het na bewering gedreig om hom dood te maak indien die familie nie aan hul eise voldoen nie.

Die slagoffer se Volkswagen Polo is later Saterdagoggend verlate in Khuma gevind. Foto verskaf

’n Multidissiplinêre span bestaande uit die Noordwes- Provinsiale dwelmtaakspan, Gyselaaronderhandelaars, Misdaadintelligensie, Wes-Rand se Blitspatrollie, die Lugvleuel, Carletonville se honde-eenheid, Fochville-polisie, Spectrac Sekuriteit en BIU Sekuriteit, het saamgewerk.

Die polisie het beslag gelê op ’n vuurwapen wat vermoedelik tydens die misdaad gebruik is. Foto verskaf

Daar is ooreengekom op ’n aflaaipunt vir die losprys, wat Sondag (5/5) betaal sou word. Die span het die situasie waargeneem totdat ’n Mercedes Benz ongeveer 13:00 op die N12, naby Fochville, opgedaag het. Die insittendes is deur die polisie gekonfronteer nadat hulle die geld opgetel het.

Die verdagtes het probeer wegjaag, maar het uiteindelik tot stilstand gekom toe die polisie skote begin afvuur. Die verdagtes wat weggehardloop het, is deur die span in hegtenis geneem. Een van die verdagtes, wat 40 jaar oud is, is tydens die skietvoorval gewond en hospitaal toe geneem waar hy onder polisiebewaking is.

Die losprysgeld is teruggevind. Foto verskaf

Die polisie het die losprysgeld teruggekry en beslag gelê op die verdagtes se voertuig, asook ’n vuurwapen wat vermoedelik tydens die misdaad gebruik is.

Die ontvoerde slagoffer is ongedeerd by die Doornkop-polisiestasie afgelaai.

Lt. genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, loof die span vir hul werk om die verdagtes in hegtenis te neem en 'n onwettige vuurwapen te konfiskeer. Hy het gesê die arrestasie sal 'n sterk boodskap uitstuur dat kriminele aktiwiteite nie geduld sal word nie.

OFM Nuus 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.