On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Viervoetige vriend verwelkom mense by Bloemfonteinse hospitaal

───   KAREN VAN DER BERG 15:01 Tue, 07 May 2024

Viervoetige vriend verwelkom mense by Bloemfonteinse hospitaal | News Article
Jacques de Bruyn en sy gidshond, Jazz. Jacques vertel gidshonde bring soveel genot en normaliteit in blinde mense se lewe. Foto verskaf

“Ek en Jazz saam wil graag die boodskap bring dat wanneer jy besluit om die beste van jou situasie te maak, dan kan jy.”

Dit is nie aldag dat ’n mens deur ’n vriendelike Labrador by ’n hospitaal verwelkom word nie.

Maar by die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein is dit presies wat jy gaan teëkom wanneer Jacques de Bruyn (33) en sy gidshond, Jazz, jou by hospitaaltoelatings ontvang.

De Bruyn ly aan ’n genetiese toestand, Stargardt se siekte, wat die toestand van sy sig beïnvloed. Sy ma, oom en suster ly ook daaraan. “’n Mens word gebore met die geen, en dan is dit dormant tot ’n sekere ouderdom. Wanneer dit dat begin intree, raak ’n mens se oë aansienlik swakker.”

De Bruyn en sy gidshond, Jazz. Foto verskaf

De Bruyn se oë het tussen nege en tien jaar begin verswak. “Verlede jaar het my sig ernstig begin agteruitgaan en dit het my angstig gemaak.” Hy het daarom besluit om ’n gidshond aan te skaf.

Dit is ’n hele proses om ’n gidshond te kry. ’n Mens stuur ’n aansoek met al jou inligting en doktersverslae na die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging (Sagda). ’n Keuringsproses volg.

“Daarna stuur hulle iemand na jou toe om ’n onderhoud te doen. Hulle moet ’n gidshond kry wat by jou pas, wat dieselfde energie het en by jou lengte en gewig pas.”

De Bruyn vertel gidshonde bring soveel genot en normaliteit in blinde mense se lewe. Foto verskaf

De Bruyn sê Jazz het sy lewe verander. “Dit is ongelooflik om so metgesel te hê. Dit is soos om ’n beste vriend te hê wat heeldag by jou is.”

Hy sê dit is verstommend wat die gidshonde doen. “Hulle maak dat ’n mens ’n normale lewe kan lei en gee soveel gemoedsrus.”

Gidshonde ontvang opleiding en wanneer hulle twee jaar oud is, word hulle uitgeplaas. De Bruyn en Jazz moes ook saam opleiding kry. Nou is Jazz reeds ’n jaar saam met hom by die werk. Voor dit het hy reeds agt jaar daar gewerk.

De Bruyn sê Jazz het sy lewe verander. Foto verskaf

“Dit is interessant om mense se reaksie te sien wanneer hulle vir Jazz in die hospitaal sien. Sommige skrik en gee ’n benoude laggie. Ander wil haar vryf.”

Hy sê Jazz is die hospitaal se geliefkoosde werknemer.

De Bruyn doen ook Paralimpiese atletiek in kort afstande en het al Suid-Afrika daarin verteenwoordig. “Ek hou daarvan om mense te inspireer. En ek en Jazz saam wil graag die boodskap bring dat wanneer jy besluit om die beste van jou situasie te maak, dan kan jy.”

Volg hulle twee gerus op hulle TikTok-bladsy.

OFM Nuus/Karen van der Berg mvh


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.