On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Skade by Goudveld-Hoërskool ná inbraak beloop byna R120 000

───   HEIDRÈ MALGAS 11:43 Wed, 08 May 2024

Skade by Goudveld-Hoërskool ná inbraak beloop byna R120 000 | News Article
Goudveld-Hoërskool in Welkom se kluis wat beroof is. Foto verskaf

“Die beeldmateriaal is ongelukkig van so ’n aard dat die inbrekers nie geïdentifiseer kan word nie.”

Die Goudveld-Hoërskool in Welkom het ’n verlies van meer as R100 000 gely nadat diewe Saterdagoggend (4/5) by die skool ingebreek het.

’n Aansienlike bedrag geld is uit die kluis gesteel, asook ’n kragomskakelaar, drie selfone, verlengingskoorde en skoolbaadjies, sê Willie Stolk, waarnemende skoolhoof. “Ons het sekuriteitskameras geïnstalleer, maar die beeldmateriaal is ongelukkig van so ’n aard dat die inbrekers nie geïdentifiseer kan word nie.”

Die inbrekers het toegang verkry deur die palisade oop te breek, waarna hulle die diefwering van een van die vensters in die kantoorblok afgebreek het. Die waarde van alles wat gesteel is, is moeilik om te bepaal, maar insluitend die kontant beloop dit amper R120 000, sê hy.

Die kantore van die Goudveld-Hoërskool was in 'n toestand. Foto verskaf

“’n Onafhanklike risikobeoordeling het reeds Dinsdag plaasgevind. ’n Plan om die skool se sekuriteit te verbeter, sal binnekort aan die beheerliggaam voorgelê word,” sê Stolk.

Die voorval beperk nie enige skoolbedrywighede nie. Hoewel die kantore in ’n chaotiese toestand gelaat is weens die inbraak, kon die meeste daarvan die naweek opgeruim word. “Ons personeel en leerders was natuurlik geskok oor die gebeurtenis. Ten spyte daarvan het die skoolaktiwiteite op Maandag voortgegaan soos beplan,” sê Stolk.

Die beheerliggaam het die skool met raad en daad ondersteun. “Ons ouers is oor die algemeen simpatiek. Verskeie boodskappe van bemoediging is ontvang. Veral opmerklik is die steun wat ons van ons buurskole ontvang het, veral van dié wat al soortgelyke inbrake beleef het.”

Die inbraak het nie skoolaktiwiteite benadeel nie en die kantore is intussen opgeruim. Foto verskaf

Die polisie kan bevestig dat alle vensters en deure Vrydag om 18:00 behoorlik gesluit was, en die volgende dag omstreeks 14:00 is ontdek dat daar ’n inbraak was. Die heining was geknip en toegang is verkry deur ’n venster, sê Stephan Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Enigiemand met inligting oor die inbraak kan die polisie in Welkom by by 079 886 5574 bel of die Stop Misdaadnommer 08600 10111.

OFM Nuus/ Heidrè Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.