On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Inspiration

‘Christene het nie ’n vakansiedag nodig om hemelvaart te vier nie’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:40 Wed, 08 May 2024

‘Christene het nie ’n vakansiedag nodig om hemelvaart te vier nie’ | News Article
Foto: Walk Alone

“Jesus is die waarborg dat Hy ons na Hom toe sal neem en Hy is besig om vir ons plek gereed te maak.”

Dit sou natuurlik wonderlik gewees het as Hemelvaartsdag ook ’n openbare vakansiedag was en Christene dit op ’n unieke manier kon gedenk en gevier het.

Maar, sê ds. Fritz Potgieter van die Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Suid, “ons as gelowiges is nie van vakansiedae afhanklik om ons geloof uit te leef nie. Hoewel die breë samelewing hulle nie steur aan hemelvaart nie, kan ons steeds hierdie wonderlike gebeurtenis gedenk en vier.

“Om dit te doen, moet jy as gelowige self in verwondering wees, want dan sal jy met jou kinders, familie, werksmense en vriende daaroor kan praat. Saam kan ons dan as medegelowiges die Here in ’n erediens loof en prys. Ons het nog baie om voor dankbaar te wees.”

Geen fotobeskrywing beskikbaar nie.

Ds. Fritz en Amoré Potgieter en hul gesin. Foto: Facebook

Die betekenis van hemelvaart vir Christene vandag is ’n relevante vraag, sê Potgieter. “As kerk bely ons op grond van die Bybel soos volg daaroor. Hemelvaart bestaan uit drie belangrike punte: Eerstens is dat Christus in die hemel ons voorspraak by die Vader is.

“Tweedens dat Christus ook na sy menslike natuur in die hemel is en dit is vir elke gelowige ’n waarborg dat Hy ons ook na hom toe sal neem. En derdens is dat hy die Heilige Gees as waarborg na ons toe stuur sodat ons seker kan wees dat Hy ons nie alleen agter gelos het of vergeet het nie. “Dit is ’n ryk betekenis waaraan ons kan vashou in moeilike en onsekere tye.”

Sy tema vir die gesamentlike erediens Donderdag (9/5) om 18:00 in die Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Suid is: “Christus se hemelvaart laat my getuig … verwonderd … lewe!” Die kern van die boodskap wat hy graag sal wil hê die kerkgangers saam met hulle moet neem, is dat Jesus Christus ook ná sy menslike natuur in die hemel is.

“Christus se hemelvaart laat my getuig … verwonderd … lewe!” Foto: Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Suid

“Jesus is die waarborg dat Hy ons na Hom toe sal neem, en Hy is besig om vir ons plek gereed te maak. Wanneer Hy terugkom, kom haal Hy ons om na Hom toe te gaan sodat ons sal wees waar Hy is.”

Potgieter sê as gelowige leef hy met hierdie sekerheid van sy eie hemelvaart. “Die dag van Jesus Christus se hemelvaart was ’n wonderlike dag. ’n Dag van genade. Om sy hemelvaart te herdenk is wonderlik en steeds genade, want Christus se hemelvaart laat my getuig, laat my verwonderd staan en laat my waarlik leef.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.