On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

International

Poetin-kritikus Nawalni na bewering dood in aanhouding

───   13:39 Fri, 16 Feb 2024

Poetin-kritikus Nawalni na bewering dood in aanhouding | News Article
Aleksei Navalni. Foto: Kilf Post

Nawalni is deur The Wall Street Journal beskryf as “die man wat Poetin die meeste vrees”.

Die Russiese opposisiepolitikus Aleksei Nawalni – ’n vreeslose, uitgesproke kritikus van president Wladimir Poetin– is volgens die gevangenisdiens dood.

Die Russiese Federasie se Gevangenisdiens op die Jamal-skiereiland in die noordweste van Siberië, sê in ’n verklaring: “Op 16/2/24, in strafkolonie nommer drie, het die veroordeelde Nawalni siek gevoel ná ’n wandeling en amper onmiddellik sy bewussyn verloor.”

“Mediese werkers het opgedaag en ’n ambulansspan is ontbied. Alle nodige resussitasiemaatreëls is uitgevoer, maar hy is op die toneel dood verklaar. Die oorsaak van sy dood is nog onbekend.”


Nawalni (4 Junie 1976 – 16 Februarie 2024) was ’n Russiese regsgeleerde, politikus en finansiële aktivis. Hy is sedert 2009 in Rusland bekend as ’n vegter teen korrupsie en ’n kritikus van Poetin.

Hy het groot byeenkomste gehou om demokrasie te bevorder en dikwels politieke korrupsie, asook Poetin se politieke bondgenote, aangeval. In 2012 beskryf The Wall Street Journal hom as “die man wat Poetin die meeste vrees”.



Nawalni het homself as ’n nasionalistiese demokraat beskryf. Sy blog was sy belangrikste forum om met sy aanhangers te kommunikeer. Hy het dit gebruik om Poetin en sy bondgenote aan te val, politieke optogte te reël, dokumente te laai om te bewys Poetin-hulle is skuldig aan onbehoorlike gedrag, en meer onlangs vir sy presidentsverkiesingsveldtog.

Aleksei Nawalni en sy vrou, Joelia, ná sy vrylating in 2013.

Op 20 Augustus 2020 is hy in die hospitaal opgeneem nadat hy vermoedelik vergiftig is op ’n vlug na Moskou, in ’n moontlik polities gemotiveerde aanval. Ná sy herstel en terugkeer na Rusland in Januarie 2021, word hy onmiddellik in Moskou aangehou op aanklagte van oortreding van die voorwaardes van ’n opgeskorte tronkstraf. 

Nawalni is al verskeie kere deur die Russiese owerheid in hegtenis geneem – waarvan die ernstigste geval in 2012 was toe die federale owerheid hom aangekla het van geldverduistering en bedrog. Hy het skuld op al die aanklagte ontken. 

In die Weste word die aanklagte beskou as polities gemotiveerd en ’n taktiek van Poetin om die opposisie in Rusland stil te maak. Volgens ’n verklaring van Nawalni probeer die regering nie net sy teenstanders gevangenisstraf oplê nie, maar “vernietig en martel hulle ook die gesinne van dié wat hulle teenstaan”.

OFM Nuus cg/dg





@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.